Pleidooi gerig ná jong pa in tref-en-trap sterf

Alan Smit (28), saam met sy vrou Ashleigh (25) en hulle kinders Alleigh (4) en Axyl (9 maande). Alan is in Maart in ‘n tref-en-trapongeluk naby Knysna dood. (Foto: verskaf)

ʼn Gesin van Plettenbergbaai in die Wes-Kaap het ʼn pleidooi gerig aan enigeen met inligting oor die voorval waarin die 28-jarige Alan Smit vroeër vanjaar dood is.

Alan en ʼn vriend was op 23 Maart tussen 20:30 en 21:30 op die N2 tussen Sedgefield en Knysna op pad toe hulle klaarblyklik in ʼn onderonsie met ʼn motoris in ʼn ander voertuig betrokke was.

Jamie Smit, Alan se suster, het aan Maroela Media gesê die bestuurder van die betrokke voertuig het glo Alan se motor verbygesteek en toe skielik voor hom gerem. Alan moes óók rem en die bestuurder, Alan en sy vriend het uit hul voertuie geklim.

Volgens Jamie het die persoon daarna terug in sy motor geklim, in trurat met sy oop motordeur vir Alan gestamp, bo-oor hom gery en toe weggejaag.

“Dit was heeltemal sinloos en onnodig,” het Jamie gesê.

Die vriend saam met Alan kon nie veel besonderhede van die voertuig onthou nie. “Hy was paniekbevange en het net my broer probeer help,” het Jamie gesê.

Volgens haar was die voertuig betrokke moontlik ʼn silwer of grys Corsa-bakkie.

‘n Gesin van Plettenbergbaai het ‘n beroep gedoen op enigeen met inligting oor die tref-en-trapongeluk waarin Alan Smit (28) in Maart dood is. (Foto: Facebook)

Alan, sy vrou, Ashleigh (25), en hul kinders Alleigh (4) en Axyl (9 maande oud) woon in Plettenbergbaai. Alan, ʼn loodgieter, het kort vantevore as ʼn instandhoudingsbestuurder by ʼn hotel op die dorp begin werk. “Hulle het vroeër in Johannesburg gewoon en het Kaap toe getrek om vir die gesin ʼn beter lewe te verseker,” het Jamie gesê.

“Ashleigh is steeds ʼn senuweewrak. Sy het hierdie week teruggekeer werk toe. Sy moet aanhou ter wille van haar kinders en sy doen haar bes,” het Jamie gesê.

Die familie het die afgelope week ʼn hartroerende pleidooi op Facebook geplaas waarin hulle vra dat enigeen met inligting oor die voorval na vore kom. “Sy familie is platgeslaan deur sy sinlose dood. Tot dusver is niemand nog in hegtenis geneem nie en hierdie is ʼn dringende beroep op enigeen wat dalk die voorval gesien het, of wat inligting daaroor het, om na vore te kom,” lui die inskrywing.

Enigeen met inligting kan sers. Xolani Petro, die ondersoekbeampte, bel by 044 302 6652.

Die Knysna-polisie het nog nie op Maroela Media se navraag oor die voorval gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pieter du plessis ·

Kan die polisie met hulle vreeslike groot name wat hulle vir hulle eenhede gee nie help of wil hulle nie help?

Hans ·

Die N2 tussen Knysn en George het al talle slgoffers ge-eis. Waarskuwings en versoeke van Provinsiale Owerhede in die Weskaap word blatant ge-ignoreer en dit miskien al lankal tyd dat wets toepassers daar ondersoek word en ook dat die gedrag van “hooligans” summier en dadwerklik aangespreek word.

IK ·

Ek probeer hard om myself in te hou met die misdadigers wat ons paaie bewandel. Dis moeilik om jou ‘dom’ te hou en net aan te ry. Ek het ‘n kamera (dashcam) wat alreeds bewys het dis die sous werd.

JohanL ·

Sekerlik met die regte prosedures en magtigings kan selfoonrekords van die naaste toring(s) gekry word. So kan bepaal word watter selfoonnommers was in daardie area in die betrokke tydgleuf. Dit is laat die aand en meeste mense het ‘n selfoon wat by hulle is. Ek glo met tyd en moeite kan daar so minstens vordering gemaak word.

Andre Stander ·

Mense, die oomblik wat jy uit jou voertuig klim is jy die agressor! Enige iets wat dan met jou gebeur terwyl die ander party in hulle motor bly sit, maak van hulle die verdedigende party – en jou die Aggressor.

Wat hier gaan gebeur is dat die persoon wat weggejaag het – ‘nood weer’ (self defense) gaan pleit, en heel moontlik met die saak gaan wegkom.

Tragies…

Isabella ·

In daai area is daar verskriklik baie kameras. Daar moet iewers iets raak opgeneem wees. Baie sterkte

Wilma ·

Toe nou windbol
Jy was braaf
Kom uit jou wegkruipplek of is jy te lafhartig

Madelaine ·

So hartseer, ons het daar verby gery kort nadat die ambulans geariveer het, rus sag jong man ???

Strand looper ·

Dit is tragies verby. Elke dag as ek werk toe ry dan vra ek die Here om my te beskerm teen gevaare op die pad. Soortgelyke gevale het al baie met my gebeur en dan het die Here my kalmte gegee om koel kop te bly en te oorleef. Moet nooit padwoede met nog padwoede begroet nie want dan raak jy n net nog n statestiek. Sterkte aan die jong vrou en kinders.

Gesiggie ·

Wetenlose moordenaar? ek Bid dat jul pleidooi nuwe inligting sal kan voorsien n prag van n gesin se lewe is verwoes en n man se lewe is geneem. Sterkte aan Ashleigh en haar familie, mag die Genade van Jesus met jul wees.

Swanna ·

Mnr Andre Stander ek glo nie jou weergawe nie want om bo oor ‘n ander persoon te ry en hom so te vermoor of te dood en dan weg te jaag of ry is hy die aggressor, moordenaar en nog ook ‘n lafaard daarby volgens my meening. Hoop hy word gevang en boet vir sy daad.

anton ·

Wat was die ras van die persoon wat hom vermoor het?
Dis n onskuldige vraag of mag mens dit nie vra nie?

Hopeless ·

Hier in P.E. is n tuinboukundige by sy werkplek doodgeslaan en die skuldiges is gevang. Hulle is uit op borg en dit is vier jaar later, niks gebeur nie. Nee wat, vergeet die regstelsel, dit werk lankal nie meer vir die gewone mense nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.