Pleidooi om grasietydperk vir motorlisensies ook te verleng

(Foto: Maroela Media)

Die DA sê hy is bekommerd oor die “roekelose en onnodige” fiasko wat veroorsaak word deur Fikile Mbalula, minister van vervoer, se besluit om nie die grasietydperk vir die hernuwing van voertuiglisensies ook te verleng nie.

Die departement het in November aangekondig dat alle leerlinglisensie, rybewyse, tydelike rybewyse en professionele bestuurspermitte wat tussen 26 Maart en 31 Desember verlede jaar verval het, tot 31 Augustus vanjaar geldig sal bly.

Die besluit het gevolg op groot agterstande by lisensiekantore en mense wat weke lank geen beskikbare tydgleuf op die departement se stelsel kon kry om hul lisensies te hernu nie. Die departement het ook verskeie stappe aangekondig in ʼn poging om die situasie te verbeter.

Tim Brauteseth, ʼn DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies, sê Mbalula het pres. Cyril Ramaphosa se oproep – dat Suid-Afrikaners enige onnodige byeenkoms moet vermy – roekeloos verontagsaam. Brauteseth sê dit sluit in die “belaglike lang toue” by lisensiekantore en poskantore waar mense saamdrom in ʼn poging om binne die wet te bly.

Duisende nuwe Covid-19-gevalle word daagliks aangemeld en oor die afgelope week word tussen 400 en 500 sterftes per dag bevestig.

“As dit so belangrik is vir die regering om Suid-Afrikaners toegang tot strande te verbied en streng aandklokreëls af te dwing, moet hulle burgers minstens halfpad tegemoet kom en deur ander maatreëls verligting bied.

“Die huidige tweede vlaag van die pandemie het duidelik ʼn nuwe stel omstandighede veroorsaak wat dringend nuwe planne vereis en nie die ‘razzmatazz-kop-in-die-Moët-benadering’ wat ons tot dusver gesien het nie.”

Brauteseth sê in ʼn poging om die dodelike byeenkomste by toue in die DA-bestuurde Kaapstad-metro te verlig, laat die stad motoriste toe om hul voertuiglisensies aanlyn te hernieu.

“Dit is ʼn moderne en doeltreffende manier wat ʼn sprekende voorbeeld is van ons benadering tot ʼn mens-gesentreerde regering.”

Brauteseth sê Mbalula moet ʼn Covid-19-tragedie vermy en die grasietydperk vir hernuwings dringend tot 31 Augustus verleng.

Hy het ook ʼn beroep op die minister gedoen om ʼn proses van stapel te stuur waarmee voertuigregistrasies aanlyn gedoen kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Die mini-sters (cele & mbalula) wil eerder aandag probeer trek as om iets positiefs te implementeer. Hulle dink gemors uit en verkondig dit op TV. Maar van die implementering van iets wat verligting gee kom die verstand nie by nie.

Miskruier ·

Covid is die beste verskoning ooit vir staatsdepartemente om nie te werk nie. Suid afrikaners sukkel om van die buiteland dokumentasie aan te vra, vuurwapenlisensies staan, en ons voertuiglisensie kantoor was vrydag toe.

Tanniepetoors ·

Hoekom moet n motorbestuurder wat jare lank ongeluksvry en sonder verkeersoortredings bestuur, elke vyf jaar sy/haar lisensie hernu? Dis nie asof sy/haar bestuursvernuf by hernuwing getoets word nie, net ‘n oogtoets. Onverklaarbaar.

Wondermaarnet ·

Ek het byna 6 ure in ‘n ry in die bloedige hitte gestaan en moes omdraai omdat hulle 15h30 toemaak en ek nog nie voor in die ry was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.