Pleidooi oor brandstof voor begrotingsrede

Argieffoto. (Foto: Paul Brennan/Pixabay)

Die regering moet vinnig optree om die stygende brandstofpryse in Suid-Afrika aan te pak en maniere vind om die negatiewe uitwerking wat dit op alle verbruikers in die land het, te versag.

Een manier waarop dít verwesenlik kan word, is deur die huidige brandstofprysmodel te hersien om die las op verbruikers te temper.

Só sê die Automobiel-Assosiasie (AA), wat ʼn beroep op die minister van finansies doen om die brandstofprysmodel tydens die begrotingsrede op 23 Februarie te hersien.

“Ons ekonomie is gekoppel aan die brandstofprys en ons het voorheen opgemerk dat ʼn hersiening van die huidige struktuur van die brandstofprys, asook ʼn oudit van al die elemente waaruit die brandstofprys bestaan, spoedig gedoen moet word,” sê die AA.

Benewens die hersiening hoop die AA dat die minister nie die brandstofheffings, wat deel is van die brandstofprys, verder sal verhoog nie. Die AA is bekommerd dat enige verdere aanpassings aan die invorderingskoerse van hierdie heffings ernstige gevolge vir verbruikers sal inhou.

“Ons weet alte goed van die ekonomiese uitdagings wat die land in die gesig staar, en hoe belangrik die inkomste is wat deur hierdie twee heffings verkry word.

“Ons is ook bewus daarvan dat dit, soos verlede jaar, moeilik is om ʼn begrotingsrede in die huidige ekonomiese omgewing te lewer en dat die druk om die regering se finansiële las te verlig geweldig is.

“Om egter die algemene brandstof- en padongeluksfondsheffings te verhoog sal teenproduktief wees, aangesien dit meestal die armstes van die armes sal raak,” sê die AA.

Die algemene brandstofheffing is tans vasgepen op R3,93 per liter, terwyl die padongeluksfondsheffings op R2,18 per liter staan. Saam voeg dit R6,11 by elke liter petrol en diesel wat in die land verkoop word by.

Buurlande wat brandstof direk van Suid-Afrika koop, voeg nie hierdie belasting by hul brandstofpryse nie, wat hul brandstof goedkoper maak as wat dit in Suid-Afrika self is.

Die AA sê enige aanpassings aan die heffings wat in die komende begrotingsrede aangekondig word, sal ​​in April ingestel word.

Verlede jaar het brandstofpryse rekordvlakke bereik toe ʼn liter brandstof vir die eerste keer die kerf van R20 per liter verbygesteek het. Die brandstofpryse kom weer naby hierdie astronomiese bedrag, ondanks ʼn daling in brandstofpryse in Januarie.

“Enorme en verwikkelde ekonomiese uitdagings staar ons land in die gesig en hoë brandstofpryse sal net bydra tot dié uitdagings.

“In plaas daarvan om die huidige model te aanvaar, moet ons oplossings soek wat verbruikers bevoordeel en hulle nie in groter finansiële nood plaas nie,” sê die AA.

Een onmiddellike oplossing wat die AA voorstel, is om die finansiering van die Padongelukkefonds (POF) te hersien.

“Ons afhanklikheid van die POF is ʼn regstreekse gevolg van Suid-Afrika se swak padveiligheid en dit is waar meer aandag gegee moet word vir ʼn langtermynoplossing.”

Die AA het intussen ʼn petisie van stapel gestuur waarin daar gevra word dat die minister van finansies die brandstofpryse tydens volgende week se begrotingsrede hersien.

“Ons moet aanvaar dat drastiese ingryping nodig is om die ekonomie te laat groei; ons kan begin deur meer doeltreffend met die brandstofprys om te gaan as wat ons tans doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Marius ·

Die regering is nie gepla oor die land se mense nie , maar neet oor hulself . Pateties verby.

Jack ·

Nee wat.Moenie jou asem ophou nie.Verwag verdere brandstof verhogings.Die regering sal nou geld insamel op enige denkbare manier en petrol is maklik.

Misky ·

Goed en wel om die petisie te teken en ons doen dit aanmekaar en bring ons nie eintlik erens nie. Tyd dat ons daadwerklik optree en dood eenvoudig weier om net te aanvaar.

Gister was hier sprake van taxi staking in Durban omgewing en almal so bang geraak en baie vinnig om ‘n tafel gaan sit en skik. Die regering is bang vir hulle en ons sal hulle moontlik moet betrek hierby en GROOT protes aanteken. Petrolpryse bepaal alles en raak elke burger van die land.

Samuel ·

Is dit nie vreemd dat die taxibedryf nie en masse protes aanteken teen petrolprysstygings nie?

Misky ·

Ek al self gewonder en oortuig hulle kry petrolkaart en word maandeliks befonds. Hulle het deesdae so snaakse steil trappie waarop hulle met een wiel stop, dan kantel die hele taxi na een kant en daai tenk word propvol gegooi. Definitief iets aan die gang.

absoluut ·

hulle geld wat hulle kry is alles pasella, nie n sent gaan belasting nie

Misky ·

My kommentaar is verwyder Samuel…… maar definitief iets aan die gang en ek al gesien hier by ons staan taxis saans en volmaak. So snaakse yster trappie en een wiel staan daarop met die taxi skeef en dan word daar petrol ingegooi.

Anoniem ·

Te maklike inkomste dmv brandstof heffings. Brandstof pryse kan 1/3 laer wees indien die staat met laer heffings tevrede sal wees. Ek wonder egter hoekom is die taxi’s so stil oor al die brandstof verhogings, ek is oortuig dat die staat vir hulle subsidies gee, maar daaroor is almal tjoepstil.

Ronel ·

Jy is korrek, die staat subsidieer die taxis, dis hoekom daar nog niks aan die brand gesteek is nie

Salome ·

En die mense in die regering betaal nie vir petrol nie. Hulle kry petrolkaarte. Ons belastingbetalers betaal vir die petrol. Ons betaal vir alles. Hulle pocket net die geld wat inkom van ons af

Johann ·

Ja shure. Die bankrot ANC gaan afstand doen van sy maandelikse meevaller? Opvallend hoe stil.die gewoonlik baie ontevrede Taxi bedryf is te midde van die verhogings?

Nettie ·

Taxi’s kry mos subsidie by die regering vroeër jare het hulle mos getoi toi as die petrol prys verhoog het.

Pieter ·

Ons belasting betalers betaal mos vir die taxis se brandstof ook dit is hoekom hulle nie n woord se nie

Samuel ·

Ek het die petisie geteken, maar of dit enige gewig gaan dra sal ons maar moet sien. Brandstofheffings is maklike manier vir die ANC om hulle koffers te vul.

Antoinette ·

Skande dat Suid-Afrikaners bitter duur moet betaal vir ons eie bronne maar buur lande nie

Annamarie ·

Waarom kan ons nie dieselfde betaal wat ons buurlande betaal, byvoorbeeld soos in Botswana. Laat almal dieselfde betaal. Ek laat my nie vertel, dat die RSA verloor deur brandstof aan Botswana te verskaf. Maak nogsteeds n wins daaruit. Daarvoor is onse “kader” te lief vir Mammon!!!!

Hendrik ·

Dit is tyd dat die regering wys wat doen hulle met die vondse:
1. Brandstof heffing – Wat word met die geld gedoen? Wie Auditeur dit?
2. Padongelukvonds – Vir wat word dit gebruik? Wie beheer dit? Wie auditeur dit?
As daar geen bewyse is nie dan verryk die ANC hulself daarmee.

Dirk Mostert ·

Ons en ander ekonomiee is gekoppel aan brandstof en energie-pryse. Ons ekonomie word gesaboteer deur Green Direction en ander groen groepe wat verhinder dat olie en gasvelde opgespoor en ontgin word. Kyk hoe welvarend is die Arabiese Golf-state, wat n woestyn omskep en leefbaar maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.