Plek in skole knyp

(Argieffoto: Unsplash)

Die skole maak vandag (Woensdag) oop vir die nuwe jaar en die Wes-Kaapse en Gautengse departemente van onderwys stoei steeds om genoeg plek in skole beskikbaar te maak.

Meer as ʼn miljoen gr. 1’s landswyd woon vandag vir die eerste keer skool by. Derduisende gr. 8’s gaan ook vir die eerste keer hoërskool toe.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het bevestig dat die aantal aansoeke vir graad 1 tot 8 sedert verlede jaar beduidend toegeneem het. In graad 1 is ʼn totaal van 107 000 aansoeke om plek in skole ingedien in vergelyking met 104 336 in 2019. Vandeesjaar is omtrent 93 000 skoolplasings vir graad 8 aangemeld teenoor die 85 771 plasings van verlede jaar.

Die Gautengse departement van onderwys het tot laat verlede jaar nog gespook om al die leerders te plaas wat in Mei verlede jaar aansoek gedoen het om plek in ʼn skool. Die departement verwag boonop dat duisende leerders vandag vir die eerste keer gaan aansoek doen om plek in ʼn skool.  Die departement het Dinsdag in ʼn verklaring gesê aansoeke kan tot Vrydag 24 Januarie nog ingedien word, maar dat ouers slegs uit ʼn beperkte aantal skole sal kan kies waar daar nog plek is. ʼn Totaal van 912 laerskole en 374 hoërskole in die provinsie het nog plek vir laat aansoeke.

Soos vroeër berig is nagenoeg 2 020 amptelike besware verlede jaar aangeteken teen skoolplasings in Gautengse skole. ʼn Totaal van 700 sake is by die departement aangeteken waar ouers appelleer teen die departement se besluit oor waar hul kind geplaas is. Volgens die LUR vir onderwys in die provinsie, Panyaza Lesufi, sou die departement dié sake Dinsdag finaal afhandel voor die heropening van skole vandag (Woensdag). “Ek het talle boodskappe van ongelukkige ouers ontvang. Ons doen als in ons vermoë om al die kinders vir die nuwe skooljaar te akkommodeer,” het Lesufi gesê.

Volgens Lesufi is hulle grootste probleem kapasiteit in skole. “Ongelukkig kan ons net ʼn sekere aantal leerders in ons skole toelaat as gevolg van beperkte kapasiteit in klaskamers. Talle ouers dring ook daarop aan dat hul kinders in skole van ʼn bepaalde gehalte geplaas moet word of in ʼn skool wat nie ver van hul huise af is nie. Ongelukkig is dit nie altyd moontlik nie weens kapasiteit.”

Maar Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum, sê die departement het onnodig gesloer met appèlle. “Nou is daar honderde leerders wat nog nie weet na watter skool hulle vandag gaan nie.” Sy meen Lesufi se gesentraliseerde stelsel het chaos in die provinsie veroorsaak en dat toelatings teruggeplaas moet word na skole.

Volgens Lesufi het sy departement besluit om hande te vat met private skole soos Curro om kinders te akkommodeer. “Ons het gekyk na die Curro-skole omdat hulle fooiestruktuur ooreenstem met dié van openbare skole.”

Talle distrikte met te min kapasiteit is geïdentifiseer en sluit in Tshwane-Wes, Tshwane-Suid, Johannesburg-Sentraal, Johannesburg-Oos, Johannesburg-Noord en Ekurhuleni-Suid. Die departement beoog om tydelike mobiele klaskamers aan skole in dié gebiede te verskaf.

Die departement het ook aangekondig dat hulle beoog om nóg nuwe skole op te rig. ’n Splinternuwe laerskool in Johannesburg-Noord, Noordgesig-laerskool, word vandag (Woensdag) geopen. Golden Gardens‑ en Tshepong‑laerskool gaan ook eersdaags hul deure oopmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Lesufi se optrede geval duidelik sy minister en dit skeel Cyril min, al staan die onderwysdepartement voor ‘n krisis soos Eskom, waarom roep ons dan nie vir Greta Thuneberg in nie? Sy sal lawaai in al vier windrigtings maak dat die wêreld antwoord gee!

lanie

As hulle op hou om die skole te brand en beskadig en hulle areas geplaas word sal daar meer plek wees vir die kinders.

Scalla

Boks

Peet

Verstaan tog mooi – die is deel van dumbing down proses. Dumbing down het tans ‘n hoër slaagsyfer as wiskunde, en omtrent al wat presies volgens plan verloop.

Ekke

Nie behoorlike gesinsbeplanning en die skole wat nog daar is word afgebrand of geplunder!!!