Plek vir grafte in Johannesburg raak min

Argieffoto (Foto: cocoparisienne, Pixabay)

ʼn Burgemeesterskomiteelid vir die Stad Johannesburg het inwoners aangemoedig om ander maniere te oorweeg om hul geliefdes wat sterf ter ruste te lê aangesien die stad uit spasie uit hardloop om oorledenes in tradisionele grafte te begrawe.

Nonhlanhla Sifumba, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling, het Donderdag gesê hoewel tegnologiese vooruitgang in byna elke sektor van die samelewing gesien kan word, word meer moderne maniere om mense wat sterf ter ruste te lê blykbaar vermy. “Mense verkies steeds private grafte vir begrafnisse wat onvolhoubaar is in stede soos Johannesburg wat die hoogste aantal begrafnisse in Gauteng het weens migrasiepatrone,” sê Sifumba.

Begraafplase en krematoriums in Johannesburg word deur dié metro se parke- en dieretuinafdeling (JCPZ) bestuur en dié afdeling moet dus ook voorsiening maak vir toekomstige grafspasie. “Slegs vier van die 38 begraafplase wat deur JCPZ bestuur word, het nog plek vir nuwe grafte; dit is net genoeg grafspasie vir die volgende 50 tot 60 jaar,” sê Sifumba.

Sy het gesê daar is verskeie ander opsies wat inwoners kan oorweeg wanneer hulle geliefdes ter ruste lê. “Dit sluit in ‘verminderingsbegrafnisse’ wat behels dat ʼn kleiner kis gebruik word sodat daar spasie vir meer grafte op dieselfde plek is.”

Volgens Sifumba is nog ʼn opsie die begrawing van familielede in dieselfde graf. Sy sê in ooreenstemming met die Stad se verordeninge kan families kies om familielede in dieselfde graf te begrawe waar ʼn ander familielid voorheen begrawe is.

Volgens Sifumba mag tot drie mense in dieselfde graf begrawe word wat beteken familielede kan op dieselfde plek ter ruste gelê word. “Dit verseker hulle is bymekaar, selfs in die dood, en maak dit makliker vir diegene wat agterbly om hulle almal tegelykertyd te besoek,” sê sy.

“Hierdie opsie is baie meer bekostigbaar, meer omgewingsvriendelik en gee die familie die geleentheid om hul eer aan hul geliefdes te betoon by dieselfde graf.” Sy het ook daarop gewys dat dié metode nie teen die tradisies en gebruike van verskeie Afrika-kulture is nie en dat dit ʼn praktyk is wat deur meer en meer Suid-Afrikaners gekies word.

“In die 2014/2015‑boekjaar is 2 379 gedeelde graf-begrafnisse gedoen. In die 2017/2018-boekjaar het dié getal tot meer as 4 000 gegroei. Dit word beraam dat ʼn gemiddeld van 20% van begrawings in Johannesburg gedeelde graf-begrafnisse is.”

ʼn Derde opsie is mausoleumbegrafnisse waar die oorskot van oorledenes in ʼn graf of struktuur bo die grond begrawe word. Nog ʼn opsie is verassing en naasbestaandes kan kies om die as van hul geliefdes in ʼn gedenkmuur te plaas, dit te hou of die as te strooi om die lewe van die oorledene te gedenk.

“Daar is tans nog genoegsame grafspasie in die Stad Johannesburg, maar ons moet alternatiewe begin oorweeg om voorsiening te maak vir die toekoms en die verwagte bevolkingsgroei in die stedelike gebiede in die land,” het Sifumba gesê.

“Uiteindelik is baie opsies beskikbaar vir mense om ʼn waardige rusplek vir hul geliefdes te gee, terwyl die spasie wat vir begrafnisse beskikbaar is optimaal gebruik word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Net 50 of 60 jaar? Ek ken ‘n hele paar mense vir wie ek wil sê “Gou maak, sokkies optrek, gaan kry vir jou voordat daar nie meer ‘n plekkie oor is nie!!!”

Gert ·

Baie “mense” verkies in elk geval om op ‘n plaas begrawe te word, dan kry hulle nasate weer later die “reg” om die plaas te eis.

Reinhardt ·

Sonder om onsensitief te klink, dink ek bagraafplase is n totale mors van plek. Hier in die Kaap is daar n begraafplaas in Maitland wat om en by 120ha opneem. Dit is in die hartjie van n groot industriele area, en omtrent 10km van die middestad – perfek vir nuwe bekostigbare behuising.

Mickey ·

Daar is wel baie mense wat nie verras wil word nie. Ek sal enige plekkie onder die grond gaan lê.

Cherokee ·

Almal hou daarvan om verras te word. Dit kon interessanthede oplewer.

Dries Moolman ·

Te veel mense, te veel lyke. Tyd dat oorbevolking aangespreek word, die aarde is ook net so groot.

Daan ·

Versoekie aan my vrou! Sou ek tot sterwe kom, onthou daar is genoeg spasie in die spaarkamer. le my neer en bedek met genoeg grond asb.

Jannie ·

Juis die rede waarom mure nou om begraafplase gebou word…..mense gaan dood om daar in te kom!!!!!

Blompot ·

Ek het net noudie aand vir my man gese ek sal graag dat hy my “as” in ons erf strooi dat ek oor sy volgende vrou in MY HUIS kan kyk ??? sy moet net nie oor my probeer loop nie.

Katerina ·

Ek het vir my gesin gese ek wil veras word. Het nog altyd vir my grusaam geklink om begrawe te word.

Cherokee ·

Die oplossing behoort te wees dat grafte hergebruik kan word na x-hoeveelheid jare.

Gerda ·

Van stof is jy, en tot stof sal jy terug keer. Nie van stof tot as nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.