Plettenbergbaai-verdrinking: Egpaar was op hul wittebrood

John en Lynette op hul troudag net meer as 'n week gelede. Foto: Facebook

John en Lynette op hul troudag net meer as ‘n week gelede. Foto: Facebook

Die toeriste wat Vrydag by Plettenbergbaai in die Wes-Kaap verdrink het, was ʼn Ierse egpaar wat op hul wittebrood in Suid-Afrika was.

Maroela Media het vroeër berig dat die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) net ná 18:00 na die Robbergstrand ontbied is, waar hulle die liggaam van ʼn man in die vlak branders op die strand gevind het.

Terwyl hulle op die ambulansdiens gewag het, het twee vroue wat op die strand gestap het, nader gehardloop en gesê hulle het die liggaam van ʼn vrou 200 meter verder op die strand aangetref. Die vrou se liggaam was ook in die vlak water waar dit uitgespoel het. Paramedici het albei probeer bybring, maar dit was tevergeefs. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Die Daily Mail berig intussen die oorledenes is John (28) en Lynette (26) Rodgers. Volgens die berig is die Rodgers-egpaar op 17 Oktober getroud en was op hul wittebrood in Suid-Afrika. Die egpaar was van Holywood in die noorde van Ierland.

“Die geluk en vreugde van hul huwelik verlede Saterdag is vervang deur hartseer en verlies,” het Stephen Lowry, die leraar van die kerk waar die egpaar getroud is, aan die BBC gesê.

Volgens die NSRI het die egpaar in die see gaan swem kort ná hul aankoms in Plettenbergbaai. “Hulle het vermoedelik verdrink. Die seetoestande was rof met sterk strome in die gebied,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê.

ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen, aangesien die polisie nie vuilspel vermoed nie. Die oorsaak van hul dood sal egter deur ʼn nadoodse ondersoek bevestig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Susan ·

Dit is so hartseer. Hulle sal nou vir altyd saam wees. Ek wems almal wil besef hoe kort ons lewens regtig is en ons almal ons nonsense met mekaar wil stop!!!!!
Sterkte aan hul families.

Muller ·

So ongelooflik tragies. My innige meegevoel aan hulle naasbestaandes

Johnnie ·

Dis baie hartseer ons innige simpatie met die naasbestaandes.

pop ·

Dis baie hartseer. Toeriste moet as prioriteit gese word van alleen swem in ons see nie. Veral die koue lande. Hulle kom hier en vergaan van die hitte, Die kaapse see is nie vir hulle koud nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.