Ploftoestel by Woolworths in Durban ontlont

Argieffoto

ʼn Ploftoestel is Donderdagoggend by ʼn Woolworths-winkel in Durban se middestad gevind en ontlont.

Die winkel is ontruim en die omliggende gebied is afgesper, aldus die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Woolworths het die voorval bevestig en gesê hy is “geskok oor die onlangse voorvalle in KwaZulu-Natal”. “Ons kan bevestig dat nóg ʼn ploftoestel in ons winkel in Weststraat gevind is. Ons het dadelik die winkel ontruim as ʼn voorkomingsmaatreël om die veiligheid van ons werknemers en klante te verseker.”

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het aan African News Agency gesê werknemers van die winkel in Dr Pixley Kasemestraat (voorheen Weststraat) het op die verdagte toestel afgekom en die owerhede in kennis gestel. “Daar was ʼn toestel en dit is deur ons bomeenheid ontlont. Geen beserings is aangemeld nie.”

Die gebied is teen Donderdagmiddag weer veilig verklaar en gewone bedrywighede is hervat.

Die jongste voorval vorm nou deel van die Valke se voortgesette ondersoek oor ʼn reeks soortgelyke voorvalle. Mulaudzi wou nie kommentaar lewer oor die samestelling van die toestel nie.

Inwoners in Durban is die afgelope paar weke op hete kole terwyl gekskeerders se oproepe tussendeur ontvang word terwyl werklike ploftoestelle gevind word.

Die eerste voorvalle was op 5 Julie toe ʼn ploftoestel elk binne enkele ure in die Woolworths-winkels in Gateway Mall en die Pavilion gevind is. Nóg ʼn toestel is op 7 Julie by Woolworths Gateway gevind en nog twee onder twee verskillende voertuie, ʼn paar minute se stap weg van die Greyville-resiesbaan waar die jaarlikse Vodacom Durban July-perdewedren plaasgevind het.

Volgens die polisie, wat herhaaldelik inwoners gemaan het om kalm te bly, is die onprofessionele toestelle nie gebou om te ontplof nie, maar eerder om aan die brand te slaan.

Die Pavilion-winkelsentrum is op 9 Julie ontruim nadat ʼn vermoedelike ploftoestel gevind is. Dit is later uitgeken as ʼn sekuriteitskaartjie vir klere. ʼn Spar-supermark in Wentworth het later ʼn bomdreigement aangemeld. Die voorval het na bewering nie dieselfde modus operandi gevolg as die ander nie, aangesien afpersing betrokke was.

Die Cornubia-winkelsentrum naby Umhlanga, Commercial City in Durban en die Phoenix-polisiestasie het op 12 Julie bomdreigemente ontvang. Al drie gebiede is ontruim, maar geen ploftoestelle is gevind nie.

“Dis ʼn ingewikkelde ondersoek,” het Mulaudzi gesê. “Ons wil seker maak ons kry die persone wat hiervoor verantwoordelik is. Die ondersoek geniet ons volle aandag.”

Woolworths het gesê die winkelgroep werk nou saam met die polisie, die Valke en sy eie interne ondersoekbeamptes. “Ons klante in KwaZulu-Natal sal meer sigbare veiligheidsmaatreëls opmerk en ons waardeer hulle geduld en begrip vir enige ongerief wat deur die bykomende maatreëls veroorsaak word.”

Lees alle vorige berigte oor Woolworths op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Chantal ·

Kan nie glo dat woolies nie CCTV het in al die winkels wat geteiken is nie, dit kan help om die verdagte te identifiseer en te stop voor iemand seer kry.

Valerie ·

In die tagtigs was dit die Wimpy (Bars); nou is dit Woolworths.

ES ·

Vandat CR die waarnemende president geword het, het hierdie land in totale anargie verval… wonder wat gaan volgende gebeur.

Rt ·

In true south african manner, Saffas will find someone else to blame. Murder – Zimbabweans, Crime – Nigerians, everything bad – immigrants. Saffas never ever to blame, even in sport, it’s always the ref, always somesort of excuse for bad behavior.

madels ·

Woolworths verkoop produkte van Israel en ons het gevaarlike ISIS ondersteuners in hierdie land. Ons moet wakker wees in hierdie land

Anti Woolworths ·

Gelukkig kom ek nooit in woolworths nie, pryse is belagilk! Ek koop woolworths se klere by PQ vir spot goedkoop! Met woolworths se lables aan! Wonder watter winkels is volgende…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.