Pluimveeboere wil eiers invoer

eiers-en-kuiken

Foto: Knowle.solihull.sch.uk

Suid-Afrikaanse pluimveeboere oorweeg die moontlikheid om bevrugte hoendereiers te laat invoer uit lande soos Brasilië, nadat die onlangse uitbreking van die H5N8-voëlgriepvirus verwoesting in dié sektor gesaai het, het Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, gesê.

“Pluimvee moes van kant gemaak en eiers vernietig word as gevolg van die uitbreking van die virus,” het Zokwana in Kaapstad gesê. “Die pluimveebedryf het toestemming gevra om bevrugte eiers te laat invoer om sodoende die gaping in die huidige verskaffingsketting te vul. Ons het talle versoeke gekry en is besig om dit te oorweeg,” het hy gesê.

“Ons is tans besig met ʼn deeglike risikobepaling om te verhoed dat die land verder blootgestel word aan ander siektes. Die basiese werk is reeds gedoen en daar is twee opsies wat aan die pluimveebedryf voorgehou is.”

Hy het gesê die eerste opsie is om streng kwarantynmaatreëls in te stel met die aankoms van die broei-eiers in Suid-Afrika. Die tweede opsie is om streng kwarantynmaatreëls in te stel in die lande waar die eiers vandaan kom. Dié gebiede moet gesertifiseer word dat hulle vry is van gespesifiseerde siektes en dit moet deur die Suid-Afrikaanse regering goedgekeur word, tesame met minder streng kwarantynmaatreëls wanneer die eiers dan in Suid-Afrika arriveer.

“Ons wag op inligting uit Brasilië. Die versoeke kan slegs oorweeg word vir invoere vanuit voëlgriepvrye lande sowel as dié lande vanwaar Suid-Afrika tans invoer,” het hy gesê.

Zokwana het gesê dat onderhandelinge voortgaan in ʼn poging om vergoeding te bied aan pluimveeboere wat groot verliese gely het as gevolg van die vernietiging van gesonde voëls en eiers in ʼn poging om die siekte uit te wis.

“Die vorm van voëlgriep wat tans uitgebreek het, veroorsaak nie siektes by mense nie,” het Zokwana weer eens bevestig.

Altesaam 24 gevalle van voëlgriep is tot dusver in Mpumalanga, Gauteng, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Wes-Kaap aangemeld.

“Die Wêreldgesondheidsorganisasie vir dieregesondheid en die Wêreldgesondheidsorganisasie het albei bevestig dat die H5N8-virus nié mense affekteer nie. Ons werk saam met die departement van gesondheid al sedert die eerste uitbreking aangemeld is. Werkers op geaffekteerde plase is ook getoets en daar is nie ʼn enkele geval van voëlgriepinfeksie by hulle waargeneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.