Plunderaars gevra om buit terug te besorg

Polisiebeamptes herwin goedere wat gedurende die onluste gesteel is. (Foto: Verskaf)

Die gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) doen ’n beroep op plunderaars om gesteelde goedere vrywillig aan die owerhede terug te besorg.

Plunderaars word deur moontlike inhegtenisneming en ’n kriminele rekord in die gesig gestaar indien hulle nie aan dié oproep gehoor gee nie.

Dít terwyl persone nou ook in hegtenis geneem sal word vir die skep en verspreiding van opruiende boodskappe wat poog om “vlakke van spanning, verwarring en vrees” onder gemeenskappe te verhoog.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van NatJoints, sê veiligheidsmagte is tans besig om gesteelde goedere te herwin met die hulp van die publiek wat wenke oor gesteelde goedere in hul gebiede vir die polisie aanstuur.

’n Waarskuwing is intussen ook uitgereik aan diegene wat nie noodwendig aan die plundery deelgeneem het nie, maar wel gesteelde eiendom by plunderaars koop, dat hulle  in hegtenis geneem kan word vir die besit van gesteelde goedere.

Polisiebeamptes herwin goedere wat gedurende die onluste gesteel is. (Foto: Verskaf)

Altesaam 3 407 plunderaars is teen Sondagoggend in verband met die afgelope week se plundertogte in hegtenis geneem; borgtog is aan slegs een toegestaan.

Muridili sê voorts 1 122 verdagtes sal na verwagting ondertussen in verskeie howe in Gauteng en KwaZulu-Natal verskyn terwyl die oorblywende dossiere ondersoek word.

Altesaam 92 verdagtes is die naweek in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere, terwyl 14 verdagtes oor die naweek in Gauteng, hoofsaaklik in Tembisa, Johannesburg, Alexandra en Moroka, in hegtenis geneem is vir die besit van goedere wat vermoedelik gedurende die plundertogte gebuit is. Dit sluit matrasse, televisiestelle, banke, yskaste, rekenaarskerms, skootrekenaars sowel as klere en kos in.

Opruiende boodskappe

Muridili sê drie verdagtes is die naweek in Gauteng in hegtenis geneem vir die skep en verspreiding van opruiende boodskappe wat moontlik geweld kan aanhits. Die verdagtes sal na verwagting Maandag en Dinsdag in die hof verskyn.

NatJoints is ook bewus van verskeie boodskappe wat die rondes op sosiale media doen waarin met aanvalle op polisiestasies, howe, brandstofpypleidings en raffinaderye sowel as verdere plundertogte gedreig word.

“NatJoints span alle hulpbronne in om hierdie dreigemente te hanteer en sigbaarheid te verhoog. Maatreëls is ook getref om stabiliteit te verseker, en diegene wat nie by die onrus betrokke is nie en met hul daaglikse roetine wil voortgaan, te beskerm en veilig te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Verstommend !

gehasie

Altyd lekker om vroegoggend heerlik te kan lag!

DieKriek

Sjoe, laat die diewe betaal vir hulle buit. Wie kan nou iets doen met 2de handse goed? Ek wonder aan wie SAPS die teruggevinde goedere gaan “terugbesorg”.

maggie

So, ek wonder nou of die Zuma kinders en Julius ook in hegtenis geneem gaan word vir die verspreiding van opruiende boodskappe of geld dit net vir die res van die land se mense

Jo

Sodat die polisie dit onder hulself kan verdeel ?