Plundery-dodetal aangepas

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Die polisie het Dinsdag bevestig die amptelike dodetal tydens verlede week se plundery en gewelddadige optrede van uitlanders se winkels in Gauteng, staan op vyf.

Dit is ondanks die polisie se eie berigte die afgelope week dat sewe mense gesterf het. ʼn Sakeman van Somalië wat in Nhlungwane, KwaZulu-Natal vermoor is, is nie by die dodetal ingesluit nie.

“Dit is vyf persone,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, gesê. Hy voer ook aan daar word ʼn onderskeid getref tussen persone wat direk verwant hou met die plundery en die onrus. “Niemand is buite Gauteng dood nie,” het hy gesê.

Die persone wat in Gauteng dood is, is:
1) Siphiwe Mahori (14), wat deur ʼn uitlander in Snake Park doodgeskiet is nadat hy en ʼn groep vriende glo by die mans se winkel wou inbreek;
2) Nhlanhla Monareng (19) wat in Naledi doodgeskiet is;
3) ʼn 61-jarige omstander wat in Swaneville aan Gauteng se Wes-Rand doodgeskiet is toe ʼn uitlander se winkel met klippe bestook is;
4) ʼn Baba is in Kagiso deur plunderaars vertrap;
5) en 6) Twee vermeende plunderaars in Langlaagte; en
7) Dan Mokwena (74), ʼn winkelier van Malawië wat in sy winkel vermoor is terwyl hy geslaap het.

Makgale het gesê die 61-jarige omstander in Swaneville word nie by hulle dodetal ingereken nie, aangesien hy nie by die plundery betrokke was nie. Hy is dood toe ʼn uitlander glo Donderdagaand losgebrand het op ʼn groep mense wat sy winkel met klippe bestook het. Hy was in ʼn taverne saam met ʼn vriend toe hulle ʼn geraas buite gehoor en gaan ondersoek instel het. Hy is toe doodgeskiet.

Volgens Makgale word Mokwena se dood ook nie aan die plundery verbind nie. The Star het berig hy is Woensdagoggend vroeg in sy winkel in Soweto oorval en vermoor.

Willies Mchunu, LUR vir veiligheid in KwaZulu-Natal, het gesê ʼn Somaliër in eNhlugwane is Saterdag dood. “ʼn Onbekende man het glo sy winkel betree en losgebrand. Die winkeleienaar is dood,” het hy gesê. “Die verdagte het gevlug sonder om enigiets te steel.”

Makgale het gesê daar word onderskeid getref tussen plundery, soos in Soweto, en ander misdade wat daagliks plaasvind. “Daar is normale kriminele misdrywe regdeur die jaar wat met uitlanders verband hou,” het hy gesê. “Daar was geen plundery in die KwaZulu-Natal voorval betrokke nie.”

Lees alles oor Soweto op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.