PMB-bejaardes vermoor voor huis aan die brand gesteek is

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie ondersoek ʼn dubbelmoord nadat die liggame van ʼn bejaarde egpaar Donderdag in hul gebrande huis in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal aangetref is.

Kol. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die egpaar, albei in hul 70’s, is in hul huis in die Oribi-gebied deur ʼn onbekende hoeveelheid verdagtes aangeval. “Albei slagoffers is met ʼn skerp voorwerp in hul nekke gesteek, en hul televisiestel is gesteel,” het Naicker gesê.

Die aanvallers het die egpaar se huis aan die brand gesteek voordat hulle van die toneel gevlug het.

Die oorledenes se name is nog nie bekend gemaak nie.

Die polisie ondersoek twee sake van moord, ʼn saak van huisroof en ʼn saak van brandstigting.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Mense met inligting kan die polisie by 08600 10111 bel.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale kommissaris, het die moord streng veroordeel. “Ons sal al om die uur werk om te verseker dat die oortreders aangekeer word,” het Ngobeni gesê.

Maroela Media het vroeër berig paramedici van Netcare 911 is omstreeks 02:30 na die egpaar se huis ontbied. “Brandbestryders was nog besig om die brand te blus toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, gesê. “Die twee bejaardes se liggame is gevind nadat die brand geblus is.”

Lees ook: PMB-dubbelmoord: Name van bejaardes bekend

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sproetjies ·

Wreed en barbaars is nog sagkens gestel vir hierdie egpaar se dood. Sterkte aan hulle familie en vriende met hulle verlies. Die steel van die televisie klink vir my net na ‘n rookskerm en nie na die werklike motief vir die gebeure nie. Vang die wreedaards en gooi die sleutels ver weg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.