PMB-dubbelmoord: Name van bejaardes bekend

Susanna en Melvin Lawson. Foto: Verskaf

Susanna en Melvin Lawson. Foto: Verskaf

Die name van die bejaarde egpaar wie se liggame Donderdagoggend in hul gebrande huis in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal aangetref is, is bekend gemaak.

Kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het die egpaar geïdentifiseer as Melvin Lawson en sy vrou Susanna, albei 71 jaar oud.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is in die vroeë oggendure in hul huis in die Oribi-gebied deur ʼn onbekende hoeveelheid verdagtes aangeval en vermoor. Albei slagoffers is met ʼn skerp voorwerp in hul nekke gesteek, en hul televisiestel word vermis. Die aanvallers het die egpaar se huis aan die brand gesteek voordat hulle van die toneel gevlug het.

Sandra Vorster (44), Susan se susterskind wat naby die egpaar in Oribi woon en ná die voorval op die toneel was, het Donderdag aan Maroela Media gesê die egpaar was 28 jaar getroud en woon sedert 1987 in die gebied.

“Hulle was baie rustige en gelowige mense, en ons het altyd lekker saam gekuier,” het Vorster gesê. “Hulle het een seun wat oorlede is, en dan ʼn 43-jarige verstandelik gestremde seun wat in ʼn tehuis in Howick woon. Tannie Susan het ook drie dogters uit haar vorige huwelik. Hulle dood is ʼn groot skok vir ons almal.”

Vorster en haar man is omstreeks 02:00 deur bure wakker gemaak met die nuus dat die Lawson-egpaar se huis brand. Toe sy by die huis kom, het die polisie haar van die moorde ingelig.

“Die polisie het my later gevra of ek die huis binne ken, en ek is daarna saam met ʼn beampte deur die huis om te kyk of iets vermis word. Al wat ek kon agterkom was dat hul nuwe televisie weg was,” het Vorster gesê.

Malcolm se liggaam is in die spaarkamer aangetref met sowat vyf steekwonde aan sy nek. Susan se liggaam het in die gang gelê. Die verdagtes het glo petrol of paraffien oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek. “Die huis self is nie erg gebrand nie, dit is swart aan die binnekant en daar was baie rook. Een plafon is erg deur die brand beskadig,” het Vorster bygevoeg.

Die polisie ondersoek twee sake van moord, ʼn saak van huisroof en ʼn saak van brandstigting.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Mense met inligting kan die polisie by 08600 10111 bel.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale kommissaris, het die moord streng veroordeel. “Ons sal al om die uur werk om te verseker dat die oortreders aangekeer word,” het Ngobeni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Hou klein honde in jou huis aan. Glo my dit werk. As die hondjies blaf en onrustig raak sit en wag met jou vuurwapen vir ta. Die problem is hulle target nie sommer ‘n huis waar daar diere in is nie.
Mag hulle tog aangekeer word.

Drieks ·

IS en Boko ram. Is daar enige verskil tussen hul en ons moordenaars hier onder in Afrika.

boer ·

In die lande waar IS betrokke is,is daar ten minste oorlog en kan jy terug skiet .
Hier in SA, moor en vermink die barbare, en as jy hulle skiet word jy van moord aangekla.

Ek dink hierdie week was daar elke dag n berig van blankes wat vermoor is. Dit word nou net erger. Ek verkies op die stadium dat ons in oorlog verval,want dan kan ons darrem terug veg.

tiaan ·

Dit was my ouma en oupa wat hulle vermoor het en aan die brand gesteek is ek hoop so di moorde kan ophou ;-(

Saartjie ·

Baie sterkte aan jou en jou familie! Ons gebede is met julle.

SNEL ·

Net as mens dink dit kan nie erger nie, dan lees mens so n berig. Dis vreeslik, my hart skeur in stukke, ek voel net altyd. Goeiste, en mens weet nie eers of die arme tannie reeds dood was toe hulle die petrol/ paraffien oor haar gegooi het en aan die brand gesteek het nie. Daai arme ouers het n kind wat hulle nodig het en nou is hulle weg. Vir wat die huis aan die brand steek…..is dit nou om nog meer ongevoelig te wees of is dit om te keer dat dit wat hulle nie kon steel nie, dat niemand nou iets kan erf nie. Hierdie is siek verby. Die moorde in die land is wreed en geen land sal sulke gedrag net aanvaar nie, maar in ons land is dit asof alles maar net nog n moord is. Solank as wat daar nie n doodstraf is nie, sien ek nie dat dinge gaan verbeter nie. Wat maak hulle bang, net mooi niks, sit lekker in die tronk as hulle gevang word en hul vonnis is soos n tik oor die vingers. Sterkte Tiaan, aan julle almal mag die Here julle krag gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.