Poetin stel homself weer verkiesbaar vir 2024

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Handout/KREMLIN.RU/AFP)

Die Russiese leier Wladimir Poetin het besluit om volgende jaar Maart weer aan die presidensiële verkiesing deel te neem, het nuusagentskappe Vrydag berig. Dit stel die Kremlin-leier in staat om sy dekades lange bewind te verleng.

Poetin het tydens ʼn toekenningseremonie vir weermagpersoneel aan lt.kol. Artyom Zhoga, ʼn Russiese militêre beampte, gesê hy het besluit om homself weer verkiesbaar te stel, het staatsbeheerde nuusagentskappe berig.

“Die president het gesê hy sal hom weer beskikbaar stel as president van die Russiese Federasie,” het Zhoga gesê, aldus nuusagentskap RIA Novosti. “Ons almal in die herverenigde gebiede, die hele Rusland, ondersteun hom. Ons is baie bly dat hy ag geslaan het op ons versoek,” het Zhoga bygevoeg, met verwysing na die Oekraïense gebiede wat Moskou as sy eie beskou.

Poetin het egter nog nie ʼn formele aankondiging gemaak nie. Die verkiesing is geskeduleer vir 15 – 17 Maart 2024.

“Ons president het nog nooit en sal ook nie verantwoordelike besluite ontduik nie,” het Valentina Matvienko, die hoof van Rusland se parlementshuis, gesê. “Vandag het hy dit opnuut bevestig.

Poetin sal nie deur enige groot opposisie in die gesig gestaar word nie en sal waarskynlik ʼn mandaat so groot as moontlik soek om plaaslike verdeeldheid oor die konflik in Oekraïne te verbloem, meen analiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frederik C ·

Op 1 Maart 2024 laat hy die opposisieleier toesluit vir een of ander belaglike oortreding. Na die verkiesing word hy weer vrygelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.