POF moet paneel prokureurs vir eers hou – hof

Die hooggeregshof in Pretoria (Foto: Maroela Media)

Die padongelukkefonds (POF) het bloedneus in die hof gekry nadat hy ʼn tender vir ʼn prokureurspaneel wat van Junie vanjaar die fonds moes verteenwoordig, gekanselleer het.

Regter Wendy Hughes het Maandag beslis die prokureurs moet minstens ses maande lank nog voortgaan om op die POF se paneel van prokureurs te dien terwyl die POF sy sake in orde kry.

Volgens die bestuur van die POF kan hulle miljoene rande bespaar deur self eise teen die fonds te behartig en is besparings dringend nodig om te keer dat die fonds heeltemal insolvent raak.  As deel van ʼn strategie om geld te bespaar het die fonds dus verlede jaar besluit om die model waarvolgens eise teen die fonds besleg word, te hersien en nie weer ʼn nuwe paneel prokureurs aan te stel wat eise teen die fonds moet hanteer nie.

Die prokureurspaneel, wat bestaan uit amper 100 prokureurs van 45 regsfirmas, se dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria om dié besluit ter syde te laat stel, is egter Maandag gehandhaaf.

Die hof het bevind die POF se raad het versuim om besluite te neem en dat sy optrede veel te wense oorlaat, veral omdat die raad verantwoordelik en aanspreeklik is vir die POF se beursie, wat uit alle oorde uitgeput word.  “Dit is die raad se verantwoordelikheid om proaktief op te tree, maar die raad was gehoorsaam en onderdanig aan al die besluite wat bespreek en geneem is.

“Die armstes van die armes, of hulle nou voetgangers of motoriste is, is glad nie deur die huidige raad beskerm nie.  Die debakel spruit uit die raad se versuim om aan sy mandaat te voldoen.  Eenvoudig gestel, dit het die waarnemende uitvoerende hoof toegelaat om koning te kraai ten koste van eisers wat veronderstel is om hierby te baat,” het Hughes bevind.

Wat betref die kansellasie van die tenders, het die POF erken hy het aanvanklik geen rede daarvoor verskaf nie.  In ʼn tweede kennisgewing oor die kansellasie het die POF se finansiële hoof – en weereens nie die raad nie – die redes verskaf.

Hughes het die proses as ʼn “komedie van foute” bestempel en sê nadat die proses reeds afgehandel was, is die raad se goedkeuring gevra.  Teen dié tyd was die besluit egter geneem en is dit reeds verwerk of was dit besig om verwerk te word.  Daar is dus “geen respek vir die gesag van die raad of sy aanspreeklikheid aan die Suid-Afrikaanse publiek nie”.

Sy sê terwyl die POF aan die een kant aanvoer dat hy nie die dienste van die paneel prokureurs benodig nie, wil hy ook nuwe prokureurs raadpleeg wat dieselfde diens sal lewer as wat die bestaande paneel prokureurs reeds doen.  “Daar is geen logika aan die stelsel nie.”

Volgens die regter verhoed niks die POF om sy voorgestelde plan in werking te stel as dit regmatig gedoen word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.