POF toon eerste surplus in dekades

Die Padongelukkefonds is vir dekades reeds in ’n finansiële krisis gedompel. (Foto: Netcare911 / KZN)

Fikile Mbalula, minister van paaie en vervoer, sê die Padongelukkefonds (POF) het teen einde Maart 2021 ’n “geskiedkundige” surplus van R3,2 miljard getoon. Dít teenoor die tekort van 5,2 miljard van die vorige finansiële boekjaar.

Volgens Mbalula het die POF sedert 1981 jaarliks tekorte aangeteken en is dieselfde jaar insolvent verklaar. Dit het oor die jare etlike ondersoeke en regsgedinge tot gevolg gehad en die fonds in ’n voortslepende finansiële krisis gedompel.

Die minister sê nou dat die POF egter danksy ’n aantal ingrypings sy tekort van R330 miljard suksesvol tot R28 miljard verklein het. Mbalula sê die nettolaste staan tans op R13,5 miljard.

Teen einde Maart verlede jaar het die POF se laste op R324 miljard gestaan. Boonop kon afgehandelde eise van nog R17,2 miljard nie uitbetaal word nie weens kontantvloeiprobleme. In dié stadium het eisers reeds vyf jaar lank gewag vir hul eise om geskik te word.

Maroela Media het in April vanjaar berig dat alle betalings van eise wat nie ouer as 180 dae is nie, ingevolge ’n hofbevel tot 12 September 2021 opgeskort moet word. Die bevel bepaal ook dat eise wat ouer as 180 dae is en waar ’n skikking reeds bereik is, uitbetaal moet word.

In die 2019-’20-boekjaar is 102 086 nuwe eise by die POF geregistreer.

Mbalula het die fonds se finansiële verknorsing destyds onder meer aan die stygende getal eise en hoë administratiewe koste daarvan toegeskryf, asook die finansieel onvolhoubare model waarvolgens die fonds bedryf word. Collins Letsoalo is verlede jaar as uitvoerende hoof van die POF aangestel om ’n nuwe model in werking te stel.

“Hoewel baie faktore tot die surplus bygedra het, is dit duidelik dat die 62%-afname in die finansiële of administratiewe koste, van R290 miljoen in 2020 tot R90 miljoen in 2021, ’n beduidende rol gespeel het.

“As deel van die POF se 2020-’25- strategiese plan is die besnoeiing van administratiewe koste geprioritiseer.”

Die POF se regskoste het ook die afgelope dekade astronomies toegeneem, van R800 miljoen in 2008 tot meer as R10 miljard in 2019. Om dié stygende koste aan te pak, het die POF verlede jaar van sy prokureurspaneel ontslae geraak, wat ’n bittere hofstryd tot gevolg gehad het.

Mbalula het Sondag opnuut aangedui dat meer as 40% (sowat R17 miljard) van die fonds se inkomste aan administratiewe koste bestee word, waarvan R10,6 miljard aan regskoste en meer as R2 miljoen aan mediese koste gaan. Eisers, sê Mbalula, ontvang 60% van die jaarlikse inkomste – sowat R26 miljard.

Volgens Mbalula het die POF hom daarop toegespits om ’n daadwerklike omkeer ten opsigte van sy finansies te maak.

“Wat die bereiking van die surplus meer indrukwekkend maak, is die feit dat dit te midde van die vernietigende uitwerking van die Covid-19-pandemie op omset behaal is,” sê Mbalula.

“Ons glo dat ons nou op die regte pad is om ons mandaat uit te voer.”

Maroela Media het verlede jaar berig dat Suid-Afrika van die hoogste getal padverwante ongelukke, sterftes en beserings het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Asseblief, as jy sien hoe baie petrol stuig is daar niks anders as om bietjie in die groen te wees nie.

Phillip ·

Ja want ons betaal ons verk aan hoe bradstof prys . Ons het mos gese daar isn reede vir die skerp styging of hoe

koos10 ·

Die nuwe model is maklik. Hou op om eise uit te betaal, terwyl die regering vir jou “reddingsboeie” en petrol gelde (lees belastinggeld) vir jou gee.
Ou Frikkie, sê gou vir ons hoeveel rand se eise moet julle op hierdie stadium uit betaal, dan kyk ons of jou somme sin maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.