POF-werker vas wat glo omkoopgeld vra

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

ʼn Regskostebeampte by die Padongelukkefonds (POF) het in die Boksburgse landdroshof verskyn nadat sy glo betaling vereis het om inligting op die rekenaarstelsel te laai.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Hazel Mathebula (29) is Maandag op borgtog van R4 000 vrygelaat.

Sy is verkla deur ʼn konsultant wat kostebepalings namens verskillende regsfirmas doen en dit by die POF vir betaling indien nadat eise teen die fonds suksesvol afgehandel is.

Mathebula het op 6 Oktober ʼn WhatsApp-boodskap van die klaer gekry wat navraag gedoen het oor óf die POF-amptenare [weens die afsonderingstydperk] terug is op kantoor omdat hy geen antwoorde op sy boodskappe kry nie.

Mathebula het geantwoord dat amptenare op ʼn rotasiestelsel werk en het aangebied om te help om die 10 lêers waaroor die klaer navraag gedoen het, op die stelsel te laai – teen ʼn betaling van R4 000.

Sy het glo ook beweer dat dié koste voorkeurbehandeling van die eise in die lêers sou verseker.

Die klaer het die POF in kennis gestel en ʼn lokval is vir Mathebula gestel.

Sy het die man Saterdag by ʼn eetplek in die East Rand-winkelsentrum ontmoet waar die betaling ook gedoen sou word.

“Die beskuldigde is in hegtenis geneem en die R4 000 en die lêers is tydens die inhegtenisneming in haar besit gevind,” het Mjonondwane gesê.

Die saak teen Mathebula is tot volgende maand vir verdere ondersoek uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

As die politieke leiers en senior amptenare dit kan doen en nogsteeds los rondloop, dan is die voorbeeld mos gestel?

Yvonne

Hoe tragies is dit dat jy in n pos sit, en werk gekry het oor jou velkleur en dan nog steeds nie tevrede is met net jou salaris nie…..gulsigheid is n kwaai baas