Suretha Brits (30), weduwee van die vermoorde hotelier Leon Brits, is Maandag in die Pofadder-landdroshof borgtog geweier.
Volgens kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, is die saak tot 5 Julie uitgestel.
Maroela Media het vroeër berig dat Brits as die sogenaamde baasbrein saam met drie mans, Jacques van Vuuren (34), Amantle Bareki (24) en Enrich Williams (37), op Leon se moord teregstaan.
Adv. Johannes Cloete, namens die staat, het sowat drie weke gelede aangevoer dat Brits geen dwingende redes in haar borgtogaansoek aangevoer het nie en dat dit in belang van geregtigheid is dat haar aansoek van die hand gewys word.
Leon is op 7 Oktober verlede jaar wreed vermoor en sy liggaam in die swembad van die egpaar se huis gegooi waarna Brits op sy liggaam afgekom het.
Brits het glo derduisende rande betaal om haar man en die pa van haar drie kinders te laat vermoor. Sy het die moord glo ook haarfyn beplan.
Benewens moord staan sy ook tereg op verskeie ander aanklagte, waaronder roof en die onwettige besit van ’n vuurwapen.
Intussen is brig. Dick de Waal, die gedugte speurder wat Leon Brits se moord ondersoek het, Vrydag ná ’n kort siekbed dood nadat hy positief getoets het vir Covid-19. Hy was die hoof van die Valke in Kimberley en was ook bekend vir sy ondersoekwerk na die berugte Griekwastad-moorde.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Die arme kinders ….
Ek voel regtig baie jammer vir die kinders.
Dink nie sy het veel aan die kinders gedink toe sy die bedragte gegee het…..
Laat sy sit!
Geen borg is reg. Sy is waar sy hoort.