Man bieg by ma, suster na Pofadder-moord

Leon Brits en Suretha Brits (Foto: Facebook)

Jacques van Vuuren het ná Leon Brits, eienaar van die gewilde Pofadder-hotel in die Noord-Kaap, se moord by sy ma en suster oor sy betrokkenheid daarby gaan bieg. Die skuldgevoel het hom blykbaar tóé reeds bloots gery en hy het besluit om te vertel wat werklik op die dag van die moord gebeur het.

Van Vuuren (37) is een van drie verdagtes wat oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem is. In die pleitooreenkoms wat Van Vuuren ʼn maand gelede met die staat gesluit het, sit hy die gebeure wat gelei het tot Leon se moord, uiteen. Hierin beweer hy dat Leon (41) se vrou, Suretha Brits (30), die “meesterbrein” agter die moord is en dat hy self nou betrokke was by die beplanning en uitvoer van die moord. Van Vuuren het R30 000 ontvang vir sy aandeel in die moord. ʼn Groot deel van dié geld is gebruik om sy drie jong kinders te onderhou en sy skuld af te betaal.

Maroela Media het vroeër berig Leon se liggaam is op 7 Oktober deur Suretha in hul huis se swembad aangetref. Hy is verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek en toe verwurg.

Volgens Van Vuuren se pleitooreenkoms het Suretha hom in September genader en gevra of hy haar man sal vermoor. Van Vuuren is die afgelope 20 jaar met Suretha se broer bevriend, en het ten tye van die moord vir Suretha en haar familie goed geken. Hy het Suretha selfs as ʼn suster beskou.

Van Vuuren wou hom net voor sy inhegtenisneming, ʼn week ná die moord, aan die polisie oorgegee het. Hy het dadelik ʼn bekentenis by die polisie afgelê en het in Desember aansoek om borgtog gedoen. Dit is egter van die hand gewys.

Deon Nell is as Van Vuuren se regsverteenwoordiger aangestel en het hom gehelp om ʼn pleitooreenkoms met die staat aan te gaan.

Luidens die pleitooreenkoms het Van Vuuren sy vriend en kollega by ʼn myn in Kathu, Enrich Williams (34), genader. Williams en Amantle Bareki (24) is ook later vir die moorde in hegtenis geneem. Van Vuuren het vertel hoe hy dié twee op 7 Oktober by Leon se huis afgelaai en gewag het terwyl hulle hom vermoor en hulle toe weer opgelaai het. Hy het ook erken dat hy as middelman tussen Suretha en die moordenaars opgetree en in die buit gedeel het.

“Hy het berou”

“Ek het die eerste keer vir Jacques ontmoet toe ek by die Keimoes-polisiestasie oorkant hom gesit het. Ek het nie ʼn slegte man voor my gesien nie, maar ʼn man wat opreg emosioneel berou getoon het – ʼn man wat ʼn fout begaan het, en nou ten volle verantwoordelikheid wil aanvaar,” vertel Nell aan Maroela Media.

“Hoewel Van Vuuren presies geweet het wat hy gedoen het, het ek gevoel hy verdien nie lewenslange tronkstraf nie. Hy is beslis skuldig, maar hy is nie ʼn koelbloedige moordenaar nie.”

Nell sê dit was vir hom verstommend om te sien hoe eerlik Van Vuuren van die begin af was. Hy het met sy eerste konsultasie met Van Vuuren ook besef dat Van Vuuren nie in staat is om só ʼn moord op sy eie te beplan nie.

“Hy het vir my gesê: ‘Oom, ek sal nooit iemand kan vermoor nie. En hoekom juis vir Leon Brits? Ek ken hom nie eintlik juis nie.’”

Nell vertel Van Vuuren het ook heeltyd gesê hoe skuldig hy voel dat Leon se kinders nou sonder ʼn pa moet grootword.

Volgens Nell het Van Vuuren sy betrokkenheid by die moord opreg berou en in die pleitooreenkoms erken hy dat hy meer betrokke geraak het as wat hy aanvanklik wou. “Hy het gedink dat hy net iemand sal kry wat Suretha se ‘vuilwerk’ vir haar sal doen en dan ʼn tree terug sal gee. Weens druk van Suretha se kant af, met die versoek dat hy nou as middelman tussen haar en die huurmoordenaars moet dien, het hy meer betrokke geraak as wat hy wou.”

“Sy was skelm”

Volgens die pleitooreenkoms het Suretha vir Van Vuuren geld aangebied om Leon te vermoor omdat haar man haar glo fisiek mishandel en verneuk het. Nell sê met dié storie kon sy vir Van Vuuren oortuig en manipuleer om deel te wees aan die moord. Nell vertel Van Vuuren het self met mishandeling en alkoholmisbruik in sy verlede te doen gekry. Hy vertel ook dat Van Vuuren van ʼn jong ouderdom aangewese op homself was omdat hy nie die regte pa-figuur as kind gehad het nie.

“Hy het eers agterna besef sy het op sy gevoel gespeel. Hy het heeltyd vir my gesê: ‘Sy was skelm, oom.’”

Volgens die pleitooreenkoms het Van Vuuren ook onlangs uit sy werk by die myn bedank en gewag vir sy pensioen om uit te betaal.

Die vonnis

Van Vuuren is op 25 Maart in die hooggeregshof in Kimberley ingevolge die pleitooreenkoms gevonnis. Hy is 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord, waarvan vyf jaar opgeskort is. Hy is ook gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien en hy sal effektief 20 jaar agter tralies sit.

Nell sê hy is baie dankbaar vir die vonnis wat hulle gekry het, omdat die erns van ʼn misdaad soos moord met verswarende omstandighede volgens wet ʼn minimum vonnis van lewenslange tronkstraf regverdig.

“Van Vuuren is rehabiliteerbaar en ek glo daar sal groot verandering in sy hart in die tronk plaasvind. Hy beoog boonop om ʼn diploma in sakebestuur in die tronk te verwerf.”

Nell loof ook die ondersoekspan, onder leiding van brig. Dick de Waal, hoof van die Noord-Kaapse polisie se eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad, lt.kol. Pieter Benade as ondersoekbeampte, en staatsaanklaer Hannes Cloete vir hul harde werk. De Waal het onder meer ook die berugte Griekwastad-moorde ondersoek.

“In my 25 jaar in strafreg het ek nog nooit met ʼn ondersoekspan te doen gekry wat so deeglik en opreg hul werk doen soos hierdie een nie.”

Lees hier oor die beplanning van die moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Mens sal nooit kan verstaan, wat so ‘n besluit ‘n mens dwing om te pleeg nie. Berou is ‘n goeie ding, maar kom altyd net ‘n bietjie te laat. Waarom het hy nie uit die staanspoor dit by polisie aangemeld nie? Brits sou vandag nog gelewe het, met al sy “foute” volgens sy vrou en die kinders kom ‘n pa gehad het terwyl sy vrou, met haar verraad, haar tyd in die tronk deurbring om te besin oor haar lewe. Sy gaan in elk geval baie ongure ervarings in die tjoekie beleef.

Wikkelwillie

Daar is geen onderskeid te tref nie. Hy is n moordenaar. Die feit dat hy blank is en berou toon verander NIKS. Spyt kom altyd te laat. Hy het kinders van hul pa ontneem. N lewe geneem. Hy moet boet soos wat ons almal verwag plaasmoordenaars moet boet. Klaar

Maggies

Ongelukkig kom spyt altyd te laat. Dit is hartseer om te lees hoe sy kinderdae se gevoelens uitgebuit was. Meerderheid van ons het ongelukkige kinderdae ervaar, maar dit is geen motivering vir beplanning om ‘n moord te pleeg nie.
Indien Suretha se man so onuithoubaar was, kon sy skei. Maar geld was sekerlik haar grootste motivering.

Thom

Die oomblik toe ek hoor dat Dick de Waal die ondersoek lei het ek geweet dat die betrokkenis groot probleme het .

Pieter

En die 2 geïmpliseerde moordenaars is uit op waarskuwing. Geen borg betaal nie. Hoe balanseer dit, veral met die gebeure in Piet Retief.