Pofadder-moord: Weduwee nog agter tralies

Suretha Brits (middel) word tydens ‘n vorige hofverskyning deur brig. Dick de Waal en lt.kol Sandra Boshoff na die landdroshof op Pofadder geneem. (Foto: Verskaf)

Die weduwee van Leon Brits (41) wat nou ook teregstaan as die sogenaamde baasbrein agter sy moord, bly in aanhouding.

Suretha Brits (30) se aansoek om borgtog is Vrydag in die Pofadder-landdroshof tot 17 Mei uitgestel.

Brits, ʼn ma van drie, is na bewering verantwoordelik vir die moord op Leon. Hy is op 7 Oktober wreed vermoor en sy liggaam in die swembad van die egpaar se huis gegooi. Suretha het Leon se lyk daarna glo ontdek. Verskeie items, waaronder diamante en geld, is tydens die voorval gebuit.

Suretha staan tereg op verskeie aanklagte waaronder moord, roof en die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Adv. Johannes Cloete, namens die staat het aangevoer Suretha het geen dwingende redes aangevoer om borgtog te regverdig nie. Hy het aangevoer indien Suretha op borgtog vrygelaat word, sy die hofverrigtinge kan ondermyn en die staatsgetuies probeer nader of beïnvloed.

Die staat voer aan dit is in die belang van geregtigheid dat haar aansoek om borgtog van die hand gewys word.

Leon Brits en sy vrou Suretha. (Foto: Verskaf)

Suretha Brits is aan die begin van die maand in verband met Leon, ʼn gewilde hotelier op die dorp, se moord in hegtenis geneem. Dit het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Drie mans, Jacques van Vuuren (34), Amantle Bareki (24) en Enrich Williams (37), is reeds in verband met Leon se moord in hegtenis geneem.

Van Vuuren is in die hooggeregshof in Kimberley ingevolge ʼn pleitooreenkoms gevonnis. Hy is 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord, waarvan vyf jaar opgeskort is. Van Vuuren is ook gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien en Van Vuuren sal effektief 20 jaar agter tralies sit.

Maroela Media het vroeër berig Suretha Brits het glo duisende rande betaal om Leon te laat vermoor en het dié moord na bewering haarfyn beplan. Van Vuuren sê in sy pleitooreenkoms met die staat Suretha het hom in September genader en gevra of hy Leon sal vermoor, of van iemand weet wat dit sal doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

JM ·

Suretha Brits is gewetenloos. Het sy werklik gedink dat sy met die moord sou wegkom?

Daleen ·

Nee geen borgtog moet aan die hartelose vroumens gegee word nie. Sy moet sommer nou met haar lewenslange voonnis begin vir wat sy aan haar man, kinders en sy geliefdes gedoen het.

Windhond ·

Heavy duty ondersoek beamptes wat die saak ondersoek, ligte Kolonel en n Brigadier?

Ian ·

Mens weet nie onder watter omstandighede hulle huwelik verloop het nie. Mens moet nie te vinnig oordeel nie. Laat die gereg sy gang laat gaan. Daar is kinders wat n ma nodig het.

Jinksie ·

Regtig!skei is n makliker opsie… en kinders het nie daardie soort ma nodig nie

Blikkantien ·

Ek stem saam. Baie vroue is in ‘n toksiese verhouding vasgevang en dis nie net so maklik om te skei of weg te gaan nie. Omstandighede verskil.

Realis Thailand ·

Die arme kinders het reeds n letterlike lewenslange vonnis want die pa is vir altyd weg
Sy moet maar vat kom vir haar

Dirk Mostert ·

Sy word aangekla van roof, vir items uit haar eie huis?

jzjz05 ·

Doodstraf is al afskrik middel vir mense wat die moorde beplan of uitvoer.

JohanR ·

Weet iemand waaneer Jason Rohde weer terug tronk toe gaan. Lyk my as jy R200000 in borgtog kan betaal dan gaan sit jy lekker by die huis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.