Pofadder-verhoor begin Maandag

Leon en Suretha Brits (Foto: Verskaf)

Meer as ʼn jaar ná die gru-moord op die hoteleienaar Leon Brits, sal sy weduwee, Suretha Brits, se verhoor Maandag in die hooggeregshof in Upington in die Noord-Kaap afskop.

Die verhoor is vir drie weke op die hofrol geplaas.

Brits sal saam met twee ander beskuldigdes, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24), in die hof verskyn.

Al drie staan tereg op Leon se moord.

Leon is op 7 Oktober verlede jaar wreed vermoor en sy liggaam in die swembad van die egpaar se huis in Pofadder gegooi. Suretha het later Leon se liggaam in die swembad “ontdek”.

Suretha se regsverteenwoordiger, Sandy du Plessis van De Korte & Du Plessis Geïnk. in Pretoria, kon Vrydag nie veel inligting oor die verhoor aan Maroela Media bekendmaak nie. Dit is dus nie bekend of Suretha sal getuig of nie.

Du Plessis is in Augustus as Suretha se nuwe regsverteenwoordiger aangestel, sy haar vorige regspan die trekpas gegee het. Dit volg nadat haar borgtogaansoek deur die landdroshof in Pofadder en die hooggeregshof in Kimberley geweier is.

Suretha se inhegtenisneming op 29 Maart het die Pofadder-gemeenskap geruk en spruit uit ’n pleitooreenkoms wat Jacques van Vuuren, die man wat Suretha glo gehuur het om die moord te pleeg, met die staat gesluit het.

Volgens die pleitooreenkoms het Suretha glo derduisende rande betaal om Leon te laat vermoor en het sy glo ook die hele moord haarfyn beplan.

Van Vuuren, Williams en Bareki is oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem.

Tydens Suretha se borgtogaansoek het die staat verklarings en staatsgetuienis in die hof voorgelees waarin beweer word dat sy nie net vir Van Vuuren genader het om haar man te laat “uithaal” nie. Volgens een van haar sogenaamde minnaars, Denton Nienaber (40), se verklaring het sy hom glo óók gevra om Leon te vermoor.

Die staat het op grond van verklarings van getuies aangevoer dat Suretha seksuele verhoudings met ander mans gehad het terwyl sy en Brits getroud was.

Volgens Nienaber se verklaring wat in April in die hof voorgelees is, is aangevoer dat Suretha uiters ongelukkig in haar huwelik was, maar nie van haar man wou skei nie omdat haar kinders kwansuis daaronder sou ly. Sy het ook glo verskeie kere vantevore aan haar minnaar gesê dat sy Leon wou laat “uithaal”.

Suretha het met haar laaste hofverskyning in Julie steeds haar betrokkenheid by Leon se moord ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Di ·

“Al loop ‘n leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel” Mense dink altyd hulle gaan wegkom hiermee maar geregtigheid sal geskied.

Irene ·

Ek voel net jammer vir hulle kinders, net die Vader sal hulle deur hierdie swaar en hartseer tydperk in hulle lewe kan dra.

Maggies ·

Sy wou nie van haar man skei nie omdat haar kinders daaronder sou ly. Maar toe dink sy om hom te laat vermoor sou ‘n kleiner impak op hulle lewens hê. Hoe verkeerd kan ‘n vrou nie wees nie. Ai,

Misky ·

Sy is so vas soos min in die lewe!!!! En nou is die kinders erger daaraan af.

Patch ·

Haar kinders sou kwansuis onder die egskeiding ly. Wat dink sy gebeur nou met die arme kinders? Ly hulle nie nou onder wat tans plaasvind en hul pappa se dood nie? Ek wonder soms hoe mense dink. Volg die storie van die begin af en ek kan nie help om te glo dat sy wel skuldig is nie. Maar die wiel draai en die waarheid sal seëvier.

...M... ·

Ek weet ‘n mens mag nie oordeel nie…..Maar ek glo rerig die kinders sou gelukkiger gewees het met beide ouers in hul lewe (al is hul geskei) eerder as een oorlede en een in die tronk!

Realis Thailand ·

Die vernedering vir die kinders is erg
Ma is in die tronk want sy het pa vermoor.
Wat is erger as dit
As sy skuldig bevind word is dit vir 25 jaar wat sy nie haar kinders veel, indien ooit, sal sien.

Androclus ·

Soos hulle sê sy het daardie moord haarfyn beplan,net so het sy terselfdrtyd haar pad tronk toe geplavei.

Yvonne ·

Hoe bitter siek is die wereld nie….boosheid neem by die dag toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.