Pofadder-vrou gee regspan trekpas

Suretha Brits en haar man, Leon Brits. (Foto: Verskaf)

Suretha Brits van Pofadder in die Noord-Kaap wat daarvan beskuldig word dat sy haar man vermoor het,  het haar regspan die trekpas gegee.

Maroela Media het Vrydag van ’n betroubare bron verneem dat die vermoorde hotelier Leon Brits se weduwee reeds in die proses is om ’n nuwe regspan aan te stel.

Dit volg kort nadat sy verlede maand weer borgtog geweier is.

Die hooggeregshof in Kimberley het die 30-jarige Brits net meer as twee weke gelede borgtog geweier, nadat sy appèl aangeteken het teen ʼn uitspraak deur die landdroshof op Pofadder om haar nié op borgtog vry te laat nie.

Sy staan tereg vir die moord op haar man.

Leon Brits is op 7 Oktober wreed vermoor waarna sy liggaam in die swembad van die egpaar se huis op Pofadder gegooi is. Brits het later op Leon se lyk in die swembad afgekom.

Maroela Media het vroeër berig daar word beweer dat Brits derduisende rande betaal het om Leon te laat vermoor en glo ook die hele moord haarfyn beplan het. Dié inligting het uitgekom tydens die pleitooreenkoms wat Jacques van Vuuren (34) in Maart met die staat aangegaan het.

Van Vuuren, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) is oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem. Brits is op 29 Maart ook in hegtenis geneem.

Brits, Williams en Bareki sal na verwagting van 15 November tot 3 Desember in die hooggeregshof op Upington verhoor word.

Brits verskyn dan ook weer in dié hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elize ·

Dis nie jou regspan nie, dis jy! Jy verdien nie borgtog nie. Jy het presies geweet wat jy doen.

Onnie ·

Soos ek verstaan is niemand in hierdie debakel silwerskoon nie. Blink klippies en groot bedrae geld kan mense snaakse goed laat doen.

SjN ·

Hoop jou kierantjies gaan braai, het nou hope tyd om te besin in aanhouding.

Jaco ·

Ek sê nie sy is onskuldig nie, maar borgtog word seker ook geweier omdat sy wit is. Twee stelle reëls geld mos maar vir alles in dié anti-wit SA….

Peach ·

Jaco, 2 wrongs does not make anything right en, ek sukkel om te verstaan watter rol ras hier speel.

Frank John ·

Wat dryf ‘n mens om so moord te pleeg en nog dink jy gaan daarmee weg kom. Geld? Mishandeling? Kranksinnigheid? Ai, vir al die redes kan jy mos maar net skei en aan beweeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.