Pofadder-vrou het topspeurder ná moord aangestel

Leon en Suretha Brits (Foto: Verskaf)

Die weduwee van Leon Brits (41), eienaar van die gewilde Pofadder-hotel in die Noord-Kaap, het sowat twee maande ná sy moord die private speurder Bushie Engelbrecht aangestel om haar onskuld te bewys.

In daardie stadium het die polisie Suretha Brits (30) glo reeds as verdagte in die saak geïdentifiseer.

Engelbrecht se ondersoek is ná Brits se skielike inhegtenisneming eers opsy geskuif. Die ervare speurder sê die reg moet sy gang gaan.

Hy sê indien Brits wel op borgtog vrygelaat word, sal hy die saak verder met haar en haar regspan bespreek.

“Suretha het my in Desember gekontak en as private speurder aangestel. Ons het by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg ontmoet en ek het ’n uur lange onderhoud met haar gehad,” het Engelbrecht Donderdag gesê.

“Sy het my ingelig dat sy van Leon se moord verdink word en dat ek haar moet help om haar onskuld te bewys.”

Engelbrecht sê hy het Brits uit die staanspoor aangeraai om eerlik te wees en die volle waarheid te vertel. Hy het ook vir haar gesê dat sy niks uit die ondersoek moet verwag nie.

“Sy het nooit aan my erken dat sy by Leon se moord betrokke was nie. Sy het ook aan my bevestig dat sy ’n alibi het en my verseker dat sy niks met die moord uit te waai het nie. Sy het ook gesê dat sy nie ’n rede het om Leon te wil doodmaak nie en dat sy baie lief is vir hom.”

Engelbrecht sê hy kon slegs die inligting wat Brits aan hom verskaf het, verder ondersoek en hy kon nie met enige van die staatsgetuies praat nie.

Engelbrecht sê ’n paar dae voor Brits se inhegtenisneming op 29 Maart het hy haar gekontak en gevra dat sy hom in Pretoria moet ontmoet, want hy wil ’n paar “grys gebiede” in die saak bespreek.

Sy sou Engelbrecht ʼn week later ontmoet, maar dié afspraak kon weens haar inhegtenisneming nie nagekom word nie.

“Ons het verwag dat sy in hegtenis geneem gaan word, maar ek het nie verwag dat dit so gou sou wees nie.”

Engelbrecht sê hy het Brits een keer ná haar inhegtenisneming in die polisie se aanhoudingselle op Pofadder gaan besoek.

“Ek het haar besoek om haar moed in te praat en sterkte toe te wens. Terwyl ons gesels het, het die trane heeltyd oor haar wange gerol. Sy het vir my gesê: ‘Oom moet belowe dat Oom my nie sal los nie’; en ek sal ook nie. Sy het binne ʼn kort tyd vir my soos ʼn dogter geword.

“Die polisie wou nie hê ek moet die saak met haar bespreek nie en ek het dit ook vooraf aan haar duidelik gemaak dat ek niks sal doen wat die saak kan saboteer nie.”

Engelbrecht sê dit sal vir hom ’n moeilike dag wees indien Brits wel op die aanklagte teen haar skuldig bevind word, omdat hy ʼn hegte band met haar gesmee het.

“Ek sal haar ondersteun waar ek kan, maar die feite wat in die hof gaan uitkom, sal vanself spreek. Ons laat die saak nou in die hof se hande.”

Engelbrecht beskryf Brits as ʼn “lieflike en mooi mens” met ’n “pragtige persoonlikheid”.

Hy sê inwoners van Pofadder het graag vertel watter wonderlike verhouding sy en Leon het.

Brits het verlede Donderdag en Vrydag in die landdroshof op Pofadder verskyn waar haar borgtogaansoek voortgegaan het. Sy sal na verwagting weer op 17 Mei in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Brits het glo duisende rande betaal om Leon te laat vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Thom ·

Ek wonder hoeveel kos hierdie ” padding ” haar ?
Dick de Waal en Hannes Cloete het sulke slenters al heelwat kere gesien ___ probeer iets beter !

Francois ·

Leuens bly leuens, en verander gedurig sy storie. Daar is een waarheid, en dit bly altyd dieselfde. Die hele storie sal met tyd openbaar word. Tot dan kan niemand op die kantlyn staan en spekuleer nie.

Realis Thailand ·

As ek die kommentaar van Bushy so lees glo ek Bushy het gou gesien hier kom moeilikheid en maar die saak laat vaar.

Snowball ·

Die waarheid word vandag gesien as oordeel. As almal stil bly oor sonde, bedrog, korrupsie en moord sal net die booswigte seëvier. Ter wille van die waarheid het ‘n mens nodig dat die dinge van die duister aan die lig gebring word.

Frank ·

Kom ons wag eers tot die hof haar skuldig bevind. Maklik om die skuld op ander mense te pak, of ander mense ook te betrek, wanneer jyself uitgevang word. Dis to so maklik om altyd die slegte in ander mense te sien, net sodat jyself beter kan voel.
Sê nou net hierdie vrou word inderdaad onskuldig bevind…..

Snowball ·

Daar is nie ‘n mens sonder sonde of sleg nie. Almal skuldig, maar daar is ook ‘n verskil tussen mense wat lieg of skinder of egbreuk pleeg en iemand wat ‘n moord pleeg – daarom is daar wette in die samelewing, sodat moordenaars kan tronk toe gaan. Die ‘slegte’ in mense is ‘n gegewe, maar ‘n moord is ‘n bietjie meer as net die tannie wat oor haar bure skinder want hulle gordyne lyk beter as hare..

Realis Thailand ·

Ek se nog altyd daar is goed in alle mense
Selfs Andre Stander het goeie punte gehad en ek se vandag nog hy het verdien wat hy gekry het al was hy n vriend van my
Die vrou moet nou maar net vat wat haar kant toe kom en as ek die saak so lees sien ek groot moeilikheid vir haar .
Sy is n groot mens en het presies geweet wat sy doen

Dirk Mostert ·

Die bewyse is verdoemend. Die staatsgetuie se verklaring word gestaaf deur o.a. die selfoon-inligting.

Snowball ·

Dalk moet jy lees wat een van haar minnaars Denton Nienaber te sê het oor haar pogings en planne om haar man te ‘laat uithaal’. Hy is nie ‘n ‘krimineel’ nie en ook nie by die moord betrokke nie.

Louise ·

Die polisie en speurders sluit nie net sommer iemand op omdat hulle lus het nie. Daar moes beslis feite gewees het wat haar skuldig laat lyk en waar daar n rokie trek, is daar gewoonlik n vuur.
Dit verstom my net hoe maklik sy mense oortuig dat sy die slagoffer is. Net snaaks dat sy mens vertel van haar plan en dan skielik later is haar man vermoor… Ja nee kyk, baie moeilik om met die feite nie oordeel te skep nie!

Hannes ·

Amazing hoe mense die vrou klaar skuldig bevind het.
So as die SAPS haar arresteer en die Media berig daaroor, en sy is volgens die sogenaamd selfaangestelde KENNERS Skuldig..
Dan is alle twyfel uitgewis want die SAPS Media en kenners is nooit verkeerd nie..
Soms wil ek braak oor die mens en sy/haar eiegeregtigde opinie’s.
Opinie’s wat soms net so wreed is” as die daad waaroor daar n opinie gegee word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.