Pofadder-vrou se verhoordatum bekend

Suretha Brits het haar man, Leon Brits, se moord glo haarfyn beplan (Foto: Verskaf)

Suretha Brits (30), weduwee van die vermoorde hotelier Leon Brits, se verhoor sal in November vanjaar in die hooggeregshof in Upington, Noord-Kaap, begin.

Suretha het saam met haar medebeskuldigdes, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24), Maandag weer vlugtig in die landdroshof op Pofadder verskyn. Hulle al drie staan tereg op Leon se moord.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, sê die saak is na die hooggeregshof in Upington oorgeplaas en dié drie sal van 15 November tot 3 Desember daar verhoor word.

Leon is op 7 Oktober wreed vermoor en sy liggaam in die swembad van die egpaar se huis gegooi. Suretha het Leon se lyk daarna “ontdek”.

Maroela Media het vroeër berig Suretha het glo derduisende rande betaal om Leon te laat vermoor en sy het glo ook die hele moord haarfyn beplan. Dié inligting het uitgekom tydens die pleitooreenkoms wat Jacques van Vuuren in Maart met die staat gesluit het.

Van Vuuren is op 25 Maart in die hooggeregshof in Kimberley ingevolge dié ooreenkoms tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Van Vuuren, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) is oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem. Suretha is op 29 Maart ook in hegtenis geneem.

Suretha is op 17 Mei borgtog geweier.

Luidens ʼn beëdigde verklaring wat tydens haar borgtogaansoek in die hof voorgelees is, was Suretha uiters ongelukkig in haar huwelik, maar wou sy glo nie van haar man skei nie omdat haar kinders kwansuis daaronder sou ly.

Die staat het ook op grond van verklarings van getuies aangevoer dat Suretha seksuele verhoudings met ander mans gehad het terwyl sy en Brits getroud was. Die staat het ook een van haar sogenaamde minnaars, Denton Nienaber (40), se verklaring dat sy hom ook glo gevra het om Leon te vermoor, in die hof voorgelees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

Sy gaan lank sit – voel nogsteeds jammer vir haar kinders wat nou onder haar selfsugtigheid moet lei.

Androclus ·

Ja sy verdien dit,sy’t geensins daaraan gedink toe sy dit beplan het nie,daardie man het ook mense wat hom lief gehad het.

Annelize ·

So, om die kinders se Pa so wreedaardig te laat vermoor, sal minder skade aan hulle berokken as wat ‘n egskeiding sou?

Hierdie vrou het net aan haarself, en haarself alleenlik gedink toe hierdie moord beplan is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.