Poging tot plaasaanval: Twee ‘verpleegsters’, nog vyf vas

Van die verdagtes is hier aangekeer.

Sewe verdagtes, insluitend twee “verpleegsters” in uniform, is in hegtenis geneem nadat hulle ʼn egpaar op hul plaas in die De Jagersdrift-distrik naby Dundee in KwaZulu-Natal wou aanval.

Volgens kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, is daar ook op twee pistole en ammunisie beslag gelê.

Vier van die verdagtes, insluitend die twee “verpleegsters”, het omstreeks 12:30 Maandag in ʼn motor by die plaas aangekom en hulle as werknemers van die departement van gesondheid voorgedoen. Daar was selfs plakkers met die departement se logo op die motor aangebring.

Mort Mortazahn, veiligheidsverteenwoordiger van TLU SA in KwaZulu-Natal wat op die toneel was, sê die voertuig het by die elektriese hek by die plaashuis stilgehou en die boer het uitgegaan om te hoor wat die insittendes van die voertuig wou hê. Hulle het maskers opgehad en rubberhandskoene gedra.

Die plakkers op die voertuig is moontlik vervals (Foto: Verskaf)

“Die boer het gevra wat hulle op die plaas soek en hulle het hom geantwoord dat die departement hulle gestuur het om oor Covid-19 te gesels. Hulle het die boer sommer ook uitgetrap omdat hy nie ’n masker aanhet nie,” vertel Mortazahn aan Maroela Media.

Die een vrou het glo gevra of sy die boer se badkamer kan gebruik. Die vier “amptenare” is toe die huis ingelaat. Hulle het glo die boer se vrou genader en gesê hulle wil met haar praat. Hulle het om die tafel gaan sit en gesels toe die twee mans skielik opgespring en vuurwapens uitgepluk en op kontant aangedring het. Die vrou het toe dadelik ’n paniekknoppie wat naby haar was, beetgekry. “Sy kon dit druk voordat die aanvallers haar kon keer,” het Mortazahn gesê.

’n Boer van ’n nabygeleë plaas, wat op die noodoproep gereageer het, het die vier vermeende aanvallers so ’n paar meter van die plaashuis gewaar. Hulle het te voet probeer vlug. ’n Skietery het tussen die boer en die aanvallers uitgebreek.

Die voertuig waarmee die ‘regeringsamptenare’ gery het (Foto: Verskaf)

Die polisie is ook na die toneel ontbied. Volgens Mbele het goeie samewerking tussen die distriktaakspan, beamptes van die Dundee- en Kingsley-polisie, die honde-eenheid en boere van die omgewing tot die inhegtenisneming van die sewe verdagtes gelei.

Nog drie verdagtes in ʼn motor is ook in die omgewing van die plaas gewaar. Hulle is agternagesit en die drie mans is in hegtenis geneem.

Volgens Mortazahn het een van die vermeende aanvallers homself geskiet en is sy liggaam in ʼn veld gevind. Die polisie het egter nie die inligting bevestig nie.

Die verdagtes sal binnekort in die Utrecht-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot huisroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Daar is op die twee voertuie beslag gelê.

Mortazahn sê die boer en sy vrou het ongedeerd van die voorval afgekom. “Dit is net genade dat die vrou die paniekknoppie betyds kon druk.”

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, het gesê ondersoek sal ingestel word oor of die verdagtes aan soortgelyke sake verbind kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Haan ·

Nee. Die Boer se voorbereiding was groot. God se genade is in elk geval altyd groot.

Adeline ·

Stunning – die boer en sy vrou was voorberei en gereed vir so ‘n voorval en die skelm streek wat met soveel “moete” met staats embleem en voertuie totaal omkant betrap – wonderlik… laat my dink aan ‘n weermag wat weet een of ander tyd gaan daar oorlog wees en goed voorberei. Wonner net hoeveel van ons boer vanaf 1993 wat bewus is van plaasmoorde het begin voorberei vir die “oorlog” teen voos vrot korrupte anc regering se kern goedkeuring van plaasmoorde- is voorbereid vir die aantal moordenaars wat in getal toeneem om plaasmoorde te pleeg? Hulle gebruik nou staats eiendom waarvoor ons as blankes belasting voor betaal om ons as blanke boere te vermoor. Baie trots op die boer en sy vrou wat goed voorberei was. Groot dankie aan onse Skepper wat hulle ook gelei en bewaar het teen die aanval wat met skelm beplanning uitgevoer is.

Pieter ·

En so hou dit maar net aan en ons blankes neem nie standpunt in nie sterkte.

Oom Hennie Pennie ·

Dankbaar hulle is veilig. Weereens bewys dat niemand toegelaat moet word SONDER afsprake en BEVESTIGING nie.

Magda ·

Die Plase moet net NIEMAND DAAR TOELAAT NIE. AS HY of HULLE of SY HULLE VOETE IN JOU ERF SIT SONDER TOESTEMMING VERWYDER HULLE SONDER TOESTEMMING UIT JOU ERF UIT.

Michele ·

Well done aan die Boervrou en almal wat betrokke was om die skermunkels vas te trek!

ZeldA ·

Ou truuk om te sê hul wil water hê of die badkamer gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.