Pogings begin om De Lille-debakel te beredder

Patricia de Lille (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Pogings het agter die skerms begin om die tweespalt tussen sommige DA-leiers en die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, op te los, maar in hierdie stadium lyk dit of dit baie moeilik gaan wees om sukses daarmee te behaal.

Twee van die prominentste DA-lede, te wete die partyleier, Mmusi Maimane, en die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, is blykbaar agter die skerms besig om te probeer red wat daar te redde is. Navrae vandag na ondersteuners en teenstanders van De Lille oral in die Wes-Kaap het getoon dat die gif en verdeeldheid reeds tot wantroue en selfs vyandskap tussen partylede gelei het, en dat Maimane en Zille ‘n taai taak voor hande het as hulle versoening wil bewerkstellig.

Na wat Maroela Media verneem is ontevredenheid met die manier waarop De Lille hanteer word, die skade wat dit die DA berokken en die gevolge vir volgende jaar se verkiesing besig om in verskeie provinsies op te bou en kan dit by die volgende federale raadsvergadering van die party in die middel van aanstaande maand tot uitbarsting kom as ‘n kompromis nie bereik word nie.

Die DA maak nou al meer as nege maande lank bewerings teen De Lille – waarvan sommiges as vals bewys is en ander nog ondersoek word – en het nou al ‘n paar keer op verskeie maniere probeer om haar uit te skop as burgemeester.

Verlede week het die DA ‘n reusagtige terugslag gekry toe ‘n volbank regters van die Kaapse hooggeregshof bevind het die DA het nie hul eie reëls gevolg toe hulle De Lille probeer uitskop het nie, en trouens – selfs meer rampspoedig vir die party – dat al die besluite van die DA se federale regskommissie sedert 2015 ongeldig is. Die geldelike en orde-implikasies daarvan dat alle interne dissiplinêre stappe teen DA-lede die afgelope drie jaar ongedaan gemaak is, is so ‘n omvangryke gemors dat mens eintlik net jou hande wil saamslaan.

Sedert die begin van die De Lille-debakel val DA-ondersteuning – veral  in die Wes-Kaap – soos ‘n klip, soos blyk uit die party se dramaties verswakkende posisie in tussenverkiesings in Brackenfell, George, Worcester en Saldanha.

Die Wes-Kaap het die afgelope paar jaar ‘n reservoir van DA-steun geword, maar indien die neiging voortduur sal die DA in aanstaande jaar se verkiesing baie energie, geld en hulpbronne in die provinsie moet belê, wat kanse op DA-groei in die res van die land sal kortwiek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Siek en sat ·

Uiteindelik!!! Hoop van ganser harte julle kry gered wat nog te redde is Musi en Helen! Jul afleidings is 100% spot on. Los vir Patricia uit, sy is nie meer ‘n kuiken in die politieke arena soos Mazzone nie. Patricia kan groot skade berokken. Kry haar weer aan jul kant. Hoe weet ek nie…. But it makes perfect sense. Die DA kannie hierdie tipe van str@nt voor 2019 se verkiesing bekostig nie.

Koos ·

So jy reken die beweringe oor Antie Pat is alles uit die duim gesuig? Skrikwekkend hoe almal in hierdie land stemreg het…

Boerseun ·

Hehe. Die libs kan darm erger as katte raak as hulle die dag nie meer van iemand hou nie. Dan waai enige “common sense” by die ruit uit en hulle emosies neem oor. Laat my dink aan daai klomp betogers in Amerika, dit lyk of hulle angs aanvalle kry as hulle net die woord Donald hoor.

Dirk Breytenbach ·

Nee wat raak ontslae van haar volg asb. net wettige en regverdige prosesse. Dit waarvan sy beskuldig word kan nie net onder die mat ingevee word ter wille van ‘n verkiesing nie.

Theo ·

Ek weet nou nog nie wat het patti verkeerd gedoen nie. Verduidelik asb.

wraggies ·

Hoop dié wat nie vir die DA gestem het se verwagtings sal oorskry wees deur om vir die ANC, EFF, en, en, te stem. Goeie geluk, wat ‘n grap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.