Pogings om Hlaudi te verwyder gaan voort

Hlaudi Motsoeneng. Foto: SAUK

Hlaudi Motsoeneng. Foto: SAUK

Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal vandag ʼn aansoek deur die DA aanhoor om Hlaudi Motsoeneg, hoof van korporatiewe sake by die SAUK, uit sy pos te verwyder.

Die saak is vir vandag en môre op die hofrol geplaas.

James Selfe, federale uitvoerende voorsitter van die DA, het gesê die aansoek hou verband met die DA se eerste aansoek wat in Maart gebring is om die “belaglike bevindinge” van die dissiplinêre ondersoek na Motsoeneng as bedryfshoof van die openbare uitsaaier tersyde te stel. Volgens Selfe was hierdie ondersoek totaal gebrekkig en het dit net ten doel gehad om Motsoeneng teen enige aanspreeklikheid te beskerm.

“Die bevindinge van die dissiplinêre ondersoek kan nie aanvaar word nie, aangesien dit die aanklagte van growwe oneerlikheid en die onbehoorlike ontslag van werknemers sonder die korrekte prosedure heeltemal geïgnoreer het,” het Selfe in ʼn verklaring gesê. “Die SAUK het ter elfder ure hul teenstand teen verskeie aspekte van die aansoek laat vaar.”

Selfe het gesê die tweede gedeelte van die party se hofaansoek, wat in Oktober ingedien is, is om Motsoeneng se aanstelling as hoof van korporatiewe sake by die SAUK ongeldig te laat verklaar. “Die DA versoek die hof om te bevestig dat Motsoeneng geen posisie by die SAUK mag beklee totdat die Openbare Beskermer se verslag tersyde gestel word nie. Ons rig hierdie versoek op grond van die verskeie ongunstige regsbevindings oor Motsoeneng se kwalifikasies, asook sy optrede dwarsdeur sy termyn by die SAUK,” het Selfe gesê.

“Motsoeneng was tot dusver ʼn eenman-verwoestingsmasjien wat nog net daarin geslaag het om die integriteit, geloofwaardigheid en stabiliteit van die nasionale uitsaaier te beskadig. Dit is hoogtyd dat Motsoeneng se giftige invloed oor die SAUK verwyder word, sodat die uitsaaier kan begin om die skade wat hy aangerig het, te herstel.”

Die SAUK het Motsoeneng as hoof van korporatiewe sake aangestel nadat die appèlhof ʼn hooggeregshofbevinding bevestig het dat sy aanstelling as bedryfshoof “irrasioneel” was en tersyde gestel moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bumble bee ·

Jinne maar dit lyk my julle sukkel om van die kalant ontslae te raak. Hy het gelieg, hy het elke wet in die boek oortree, en STEEDS sit hy stewig in die saal. Hoekom sukkel julle so? My vraag is weereens, as hy wit was sou julle ook so gesukkel het? NEE want kyk hoe vinnig het hy van die 8 SAUK werkers ontslae geraak en hulle die gebou verbied voordat hulle regsaksie geneem het, en STEEDS word hulle harass.

Johan ·

Die arrogansie van mense – Motsoeneng moes lankal trekpas gekry het, maar weereens beskerming deur die Regering – Die Minister Faith moes ook lankal die trekpas gekry het, hoekom beskerm sy hom!!!

KP ·

Een van die sirkus se narre met ZUMA as hoof nar. Gaan nie maklik wees nie.

Moederliefde ·

‘n Ma is darem ‘n wonderlike wese. As ek so na die foto kyk van die man dan herinner dit my dat my ma my ook lief gehad het ongeag . . .

Theuns ·

Ek dink hier gaan meer aan as wat die oog sien! En dit kan net eending beteken. KORRUPSIE! As Motsoeneng ge-fire word wie vat hy saam? Hoe diep is Faith Mutambi en Jacob in sy sakkie? Kan die vrees vir wat op die lappe kan kom groter as die as die durf om van die man ontslae te raak? Ek stel voor die DA/ EFF/VF+ vra vir n leefstyl oudit van al die betrokkenes!

Del ·

Sover ek die storie het is Hlaudi se ma ‘n toordokter/sangoma. Blykbaar rerig. Dan maak dit sin dat hy is waar hy is en nerens heen gaan nie, want die meerderheid is doodbang vir toordokters se vergelding as hulle te na gekom word. En ons almal weet hoe bygelowig die meerderheid is.

Ronnie ·

Volgens my kollegas (van hulle het hoë konneksies…) is Hlaudi se volgende pos diè van ambassadeur. Watch this space.

Alida ·

Ag genade tog ek dog die skepsel is lankal weg !!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.