Polisie, Agri SA werk saam om landelike misdaad te pak

(Argieffoto)

ʼn Taakspan is tussen Agri SA en die polisie saamgestel om die landelike veiligheidsplan in werking te stel en te verseker die nodige hulpbronne is beskikbaar vir dié plan om te slaag.

Agri SA en die polisie het vandeesweek in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle het by ʼn vergadering wat einde verlede maand gehou is, onderneem om die verhouding tussen die organisasies te versterk en die uitdagings wat met die inwerkingstelling van die landelike veiligheidsplan gepaardgaan, saam te pak. Agri SA se leierskap het by die vergadering op 29 Julie met lt.genl. MD Sempe, afdelingskommissaris van sigbare polisiëring, beraadslaag.

Daar is by die vergadering onder meer voorgestel:

  • Sigbaarheid deur polisie- en boerepatrollies moet verhoog word om plaasaanvalle te stuit.
  • Daar moet gefokus word op die werwing van reserviste. Wysigings moet aan die leerplan vir reserviste aangebring word sodat meer boere en plaaswerkers aangemoedig word om aan te sluit.
  • Daar moet verseker word dat alle plaas- en buurtwagte binne wetlike raamwerke bedryf word.
  • ʼn Meer samehorige aanslag moet gevolg word om landelike veiligheidskomitees weer op die been te bring en deelname daaraan op die hoogste polisievlak te verseker.
  • ʼn Langtermynoplossing moet gevind word vir die probleem wat die onwettige jag met honde inhou.

Agri SA en die polisie het ook onderneem om ander landbouorganisasies soos TLU SA te betrek om te verseker die inwerkingstelling van die veiligheidsplan word bevorder sodat ernstige geweldsmisdaad soos plaasaanvalle, asook misdaad soos veediefstal gestuit word.

Luidens die verklaring het Agri SA die moeilike omstandighede erken waarin die polisie weens die Covid-19-pandemie werk, medelye betuig met polisielede wat weens die virus gesterf het en diegene wat nog van die siekte herstel ook beterskap toegewens.

Die polisie het op sy beurt die boerderygemeenskap bedank vir die groot rol wat hy speel, asook die pogings van boere om misdaad met hul eie hulpbronne te help beveg en dat hulle gereed is om te eniger tyd opgeroep te word om misdaad in die wiele te help ry.

Die Nasionale Landelike Veiligheidsplan is in 2011 in werking gestel en in 2018 en 2019 hersien ná omvattende gesprekke met georganiseerde landbou, plaaswerkervakbonde en betrokke staatsdepartemente.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het die hersiene landelike veiligheidsplan in Oktober verlede jaar in Makhado, Limpopo, bekend gestel waar talle belanghebbendes onderneem het om die inwerkingstelling van die plan te steun. Verlede maand het genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, gesê ses spesialiseenhede is voltyds teen plaasaanvalle ontplooi en dat dié soort aanvalle ʼn al hoe groter fokus van polisiewerk raak. Die ontplooiing van die spesialiseenhede vorm deel van die breër landelike veiligheidsplan.

Daar heers die afgelope paar maande toenemend kommer oor die groot getal plaasaanvalle en -moorde wat veral weer begin toeneem het nadat die afsonderingsregulasies verslap is.

Volgens die polisie se jongste misdaadstatistieke wat vroeër vandeesmaand bekend gemaak is, was daar tussen 1 April 2019 en 31 Maart 2020 altesaam 46 plaasaanvalle. Die syfer verskil egter beduidend van dié van byvoorbeeld TLU SA, wat ook syfers byhou.

Volgens TLU SA se syfers was daar in dieselfde tydperk 410 aanvalle op plase.

Die statistieke oor plaasmoorde verskil ook. Volgens die polisie se statistieke was daar 49 plaasmoorde terwyl TLU SA 54 plaasmoorde aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Die polisie is net daar en jaja, maar as hulle loop is alles vergete. Is net buurtwagte wat regtig help. (Hulle moet meer skiet kry). Die land is in n gemors.

Androclus ·

Asb stop plaasmoorde.Plaasmoorde is veronderstel om ‘n skedule 6 oortreding te wees maar die president sien dit nie raak nie,want dis nie sy nasie wat so uitgemoor word nie.

Adeline ·

Die kommer oor plaasaanvalle en blankes wat wreed vermoor word heers onder ons as publiek al van voor 1993 af en nie net die afgelope paar maande nie.

Pieter ·

Julle gaan op die harde manier leer jy onderhandel nie met n terroris of kommunis nie.

my opinie ·

Kom ons bid saam en vertrou als Sal uit werk. Ai ons wereld is n gemors.

Jakes ·

Om te betoog teen plaasmoorde is goed en wel maar dit sal beslis nie die aanvalle stop nie. Wees paraat en gereed met wapen in hand want dis al hoe ons enigsins vorentoe sal kan gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.