‘Polisie’ bedrieg jongman met moordslenter

Jacques Denysschen (20).  Foto's verskaf

Jacques Denysschen (20). Foto’s verskaf

Twee mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, het Dinsdag glo ʼn jong man van Pretoria van R6 450 beroof nadat hulle hom as ʼn ‘moordverdagte’ in hegtenis wou neem.

Jacques Denysschen (20) het Dinsdagoggend omstreeks 09:00 van sy werksplek naby Steve Bikoweg (Voortrekkerweg) in Gezina na ʼn nabygeleë bank gestap om ʼn rekening namens sy pa te gaan betaal. ʼn Wit Citi Golf met twee mans het langs hom stilgehou en die mans het hom glo begin ondervra.

“Die mans was in siviele klere gewees en daar was nie polisietekens aan die motor nie,” het Denysschen Woensdag aan Maroela Media gesê. “Hulle het gesê hulle is polisiespeurders en het selfs vir my hul polisiekaarte gewys. Dit het baie eg gelyk.”

"No blood" staan op die koevert wat aan Denysschen oorhandig is.

“No blood” staan op die koevert wat aan Denysschen oorhandig is.

Die mans het aan Denysschen gesê hy is ʼn verdagte van ʼn moord en rooftog wat sopas ʼn blok van daar af plaasgevind het. Hulle het aangevoer twee persone is doodgeskiet en drie is gewond. “Hulle het ook gesê R36 000 is tydens die voorval geroof. Hulle het gesê ek is ʼn verdagte, want ʼn ooggetuie het gesien hoe iemand met ʼn rooi baadjie van die toneel af weghardloop,” het hy verduidelik.

Denysschen het ʼn rooi baadjie aangehad en aan die ‘beamptes’ verduidelik dat hy onskuldig is. “Hulle wou weet waarheen ek op pad is, en ek het gesê ek gaan bank toe om ʼn rekening te gaan betaal.” Hulle het toe aangedring om Denysschen se geld te sien, en het aangevoer dat daar bloed op die “gesteelde geld” sou wees. Hy het die geld aan een van die mans oorhandig wat dit deursoek het.

Die koerantpapier binne die koevert.

Die koerantpapier binne die koevert.

Die ander beampte het intussen vir Denysschen gesê hy moet ʼn verklaring aflê wat hom sou vrywaar. “Dit het alles so vinnig gebeur, ek het in ʼn stadium onraad vermoed, maar toe kom daar ʼn regte polisievoertuig met loeiende sirenes in Steve Bikoweg afgejaag. Ek het gedink hulle is dalk op pad na die toneel en ek het my samewerking gegee.” Nadat Denysschen sy ‘verklaring’ afgelê het, het die mans die geld, in ʼn toegeplakte wit koevert, aan hom terugbesorg. Een van die mans het “No blood” op die koevert geskryf en daarby geteken.

“Hulle het gesê ek moet eers oor 30 minute bank toe gaan want die pad na die bank is versper weens die misdaadtoneel,” het hy bygevoeg.

Denysschen het later weer bank toe gestap en toe hy die inbetaling wou doen, was daar net opgeskeurde koerantpapiere in die koevert en die kontant skoonveld. Denysschen en sy ma, Adri Kuhn, is na dié skokkende onthulling na die Moot-polisiestasie waar hulle die voorval aangemeld het. Hy het nie geweet wat die beamptes se name is, of wat hul motor se registrasienommer is nie.

Daar word vermoed dat die mans die onderneming waar Denysschen werk dopgehou het, aangesien werknemers glo gereeld na ʼn nabygeleë bank stap om kleingeld te verwissel.

“Ek wil mense waarsku om bedag te wees op dié slenter. Ek sal alles in my vermoë doen om die mans te probeer opspoor,” het Denysschen gesê.

Lees ook:
Nóg ʼn slagoffer van kamma-polisie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Estelle ·

Ek dink jy skrik jou as koud as iemand jou nader en voorgee hulle is die polisie! Maar ek dink ons almal het nou al geleer elke 2de persoon vandag is ‘n skelm, sou as dit ek was gese het ons moet na die naaste polisie stasie toe stap, of die polisie gebel het! Grootbek ek weet, mens weet nie of hulle ‘n wapen sou uitruk nie! Maar flip as ons almal net omval en victim speel, gaan die skelms ‘n “ball” van ‘n tyd he!

ADRI KUHN ·

Hi Estelle ek is Jacques se ma, niemand sal ooit weet wat deur my seun se kop gegaan het nie, hul hom beskukdig van moord en roof, wat sou die ander gedoen het, volgens my het my seun reg op getree, wat is geld teen n lewe, niks nie man? Ons kan die geld weer op n manie terug kry maar nooit my seun se lewe nie….. Weet enige iemand hoe voel dit om beskuldig te word van moord as jy weet jy sal nie eers n vlieg kan skade doen nie? Al wat jy doen is om jou onskuld te bewys. Tien teen een sou hul hom geskiet het as hy nie gedoen het wat hul se nie…. Maar God dank my seun lewe, en glo my hy vat dit nie goed nie….. en al die k@k comments op beeld, Boere krisses Aksie en wat nog kom, hou julle smulle want dit kon jul gewees het, maar dis seker die groot bekke agter als wat so lae klas optree. En die wat hom bystaan en ondersteun, baie dankie dit gee hom moed. Jacques se Ma

Estelle ·

Ek stem 100% saam met jou ‘n lewe is baie belangriker! Maar ek glo nog steeds dat as ons as publiek bietjie begin opstaan (hopenlik het hulle nie wapens nie) sal die barbare twee keer dink voordat hulle ons aanvat! Ongelukkig baklei ons ‘n verlore geveg en dit maak mens briesend! En soos ek in my skrywe gese het, ek dink jy skrik jou boeglam as so iets gebeur, en al weet jy jy is onskuldig, dis dan konsuis polisie! Hoop jou seun is ok

ADRI KUHN ·

Daar het mense vir maroela media en my laat weet dit het met haar man ook gebeur 4 weke terug in Mootstr, so mense pasop dis nie speletjies nie, dis ernstig….. Ons kon darem al die nr plaat van golf opspoor….. My seun was toe nie die enigste een wat volgens mense dom op getree het nie, jy het nie n kans teen die varke nie….. ASB kyk uit na die wit golf….en moenie na hul stories luister nie…..

ADRI KUHN ·

Daar het mense op Jacques se berig gereageer dat haar man ook n slagoffer was van die varke,in Mootstr, selfde storie, ons kon nou darem deur hul die golf se nr plaar opspoor…. so asb mense dis ernstig nie grappies nie kyk uit vir golf en oppas moenie na hul luister nie….dankie vir almal wat omgee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.