Polisie besorg gesteelde voertuie terug aan eienaars

Een van die voertuie wat aan sy eienaar terugbesorg sal word. Foto: Versaf.

Die polisie het aangekondig dat drie mense se gesteelde voertuie binnekort aan hulle terugbesorg sal word.

Kapt. Zweli Mohobeleli, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man van Kimberley is Sondag (15 April) deur die polisie in kennis gestel dat sy voertuig in die Noord-Kaap gesteel is en in die Vrystaat opgespoor is.

“Hy was nog nie bewus van die diefstal nie,” het Mohobeleli gesê. “Die voertuig is deur lede van die Paul Roux-polisie teruggevind nadat hulle ʼn verdagte voertuig op die N5 afgetrek het en die bestuurder begin vrae vra het.” Mpendulo Mtshali (21) kon nie bevredigende antwoorde verskaf nie en is in hegtenis geneem.

Hy het op 17 April in die Senekal-landdroshof verskyn waar sy saak uitgestel is.

Die tweede slagoffer, ʼn 76-jarige vrou van Bethlehem, het een van haar voertuie veilig geparkeer by haar huis op 9 April gelaat.

“Toe sy ʼn week later terugkeer van vakansie af het sy gesien haar blou voertuig is gesteel. Sy was egter nie té lank té hartseer daaroor nie aangesien lede van die SANW wat op die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho werk dit vinnig opgespoor het.”

In die derde voorval het ʼn 49-jarige vrou Dinsdagoggend na die polisiestasie in Bethlehem gegaan en aangemeld dat haar maroen Toyota Tazz in Bohlokong gesteel is. “ʼn Paar uur later is dit ook opgespoor,” het Mohobeleli gesê.

Die polisie het sy dank uitgespreek teenoor sy eweknieë in ander provinsies en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat ook betrokke was by die terugkry van die gesteelde voertuie.

Een van die voertuie wat aan sy eienaar terugbesorg sal word. Foto: Verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerrit ·

Goeie werk wat nou van die boere wat elke dag aangeval en vermoor word is daar n plan van julle kant om dit te bekamp?
??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.