Polisie ‘besorg’ oor huishoudelike geweld  

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie in Limpopo het Donderdag gesê hy is bekommerd oor die aantal voorvalle van huishoudelike geweld én geweld teen vroue in die provinsie.

Dit volg ná twee afsonderlike voorvalle waarin ʼn vrou dood is en ʼn ander vrou in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee voorvalle het onderskeidelik by die Ga-Mathabatha-nedersetting en by Tafelkop plaasgevind.

Ngoepe het gesê in die eerste voorval by die Ga-Mathabatha-nedersetting het ʼn 36-jarige man glo ná ʼn geskil sy 30-jarige meisie met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Sy is later deur familie dood aangetref.

Hy het gesê in die tweede voorval by Tafelkop het ʼn 53-jarige man, ook ná ʼn geskil met sy vrou, haar na bewering eers met ʼn harde voorwerp oor haar lyf geslaan voordat hy haar verskeie kere met ʼn mes gesteek het. Die vrou het die aanval oorleef en is glo in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

Ngoepe sê die nooddienste is later na die man se huis in Tafelkop ontbied wat glo in vlamme gehul was. Volgens hom was die 53-jarige beskuldige in die huis ten tyde van die brand. Hy is dood.

Volgens die polisie is daar nog geen leidrade of rede waarom die man se huis aan die brand gesteek is nie.

“Lede van die gemeenskap word weer eens aangemoedig om te midde van ʼn geskil liewer met die plaaslike owerhede in verbinding te tree om tussen beide te tree eerder as om ʼn ander persoon aan te val of te vermoor,” het hy gesê.

Die 36-jarige man van Ga-Mathabatha moet nog in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanzie ·

MM, ek dink nie op 30 jarige ouderdom is ‘n vrou meer ‘n meisie nie. :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.