Polisie bestee R1,7 miljoen om Booysen te ‘dissiplineer’

Johan Booysen

Johan Booysen

Die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) het meer as R1,7 miljoen bestee aan dissiplinêre aksies teen die Valke se KwaZulu-Natalse hoof, genl.maj. Johan Booysen.

Hierdie syfer het Woensdag aan die lig gekom in ʼn geskrewe antwoord van ʼn parlementêre vraag aan die polisieminister Nkosinathi Nhleko.

Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van polisie, het Nhleko gevra vir ʼn uiteensetting van die totale koste van regsaksie waarby Booysen betrokke was. Nhleko het gesê die polisie het R1 088 193 aan ʼn “dissiplinêre verhoor” bestee, nog R226 062 aan ʼn “hersiening van die dissiplinêre verhoor” en R403 095 aan ʼn “hersiening van die bemiddeling”.

Mbhele het gesê die bedrag sal waarskynlik styg aangesien genl.maj. Berning Ntlemeza, die Valke se nasionale hoof, besluit het om die hooggeregshof in Durban se besluit om Booysen se skorsing om te keer, te appelleer. Ntlemeza beskuldig Booysen daarvan dat hy op bedrieglike wyse ʼn geldelike toekenning by die polisie probeer ontvang het deur dossiernommers te verander.

In Nhleko se geskrewe antwoord word daar glad nie verwys na die koste wat die polisie moes aangaan nadat Booysen hom drie keer tot die hof gewend het om sy skorsing teen te staan nie.

Nadat Ntlemeza Booysen geskors het vir bewerings van bedrog ter waarde van R15 000, het regter Anton van Zyl verlede maand die skorsing omgekeer. Booysen is in 2012 ook deur die voormalige hoof van die Valke, Anwa Dramat, geskors, maar het binne ʼn paar dae ’n hofbevel bekom om die skorsing ter syde te stel. Later in dieselfde jaar is Booysen in hegtenis geneem en wéér geskors vir bewerings van rampokkery.

In September 2014 het Booysen teruggekeer werk toe nadat ʼn regter in die hooggeregshof bevind het Nomgcobo Jiba, die nasionale direkteur vir openbare vervolging, het geen rede om Booysen te vervolg nie.

Ná hierdie uitspraak het ʼn interne dissiplinêre verhoor ook bevind dat Booysen onskuldig is – dieselfde verhoor waarna Nhleko in sy geskrewe antwoord verwys het.

Mbhele het die vervolging en dissiplinêre pogings teen Booysen as ʼn “heksejag” beskryf wat vrugtelose uitgawes tot gevolg gehad het. “Ironies genoeg is dit juis die feit dat Booysen sy werk gedoen het deur aanklagte teen Thoshan Panday, die sakevennoot van pres. Jacob Zuma se seun, te bring wat hom ʼn teiken gemaak het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lucas ·

Gedink die GROOT rampokker is weer deel van die groter prentjie!!Lees laaste sin.

Peet Schabort ·

Daar sneuwel my kommentaar.
Sou dit beter wees om te sê dat die SAPD genereer self die kostes en dit het niks uit te waai met die publiek?

Basie ·

Dit is nie ‘sy’ geld nie! Die belastingbetaler tel die tab op. Indien hy verkeerd bewys word en dit word van ‘knaap’ se pensioen verhaal, sal daar 2 keer gedink word!

Melt Olckers ·

Dink net as die geld gebruik was om werklike misdadigers toe te sluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.