Polisie betrap kapers op heter daad

Argieffoto: Kent Williamson

Twee gewapende rowers het Woensdag ʼn voertuig in Johannesburg probeer kaap, maar hul planne is gefnuik deur die polisie se vinnige optrede. Een van die rowers (28) is in hegtenis geneem.

Kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, sê die twee rowers het na bewering ’n bakkie by ’n rooi verkeerslig op die hoek van Main Reef-weg en Press-straat in Johannesburg probeer kaap. Die bestuurder van die bakkie, ’n 20-jarige man, was saam met sy vriend in die voertuig.

Mbele sê die twee verdagtes het die bakkie by die verkeerslig genader. Een van die verdagtes was in besit van ’n vuurwapen. Die ander verdagte het die motorsleutel uit die aansluiter probeer gryp.

“Die bestuurder was op en wakker en kon daarin slaag om weg te kom. Hy is in die proses met die agterkant van die vuurwapen in die gesig geslaan,” vertel Mbele.

Mbele sê die bestuurder het ’n polisievoertuig gesien en hulle van die kaping in kennis gestel. Hulle het na die verkeerslig waar die kapers die voertuig probeer kaap het, gery en die bestuurders het een van die verdagtes uitgewys.

“Die verdagte het probeer weghardloop, maar is deur die polisie aangekeer en in hegtenis geneem. Die ander verdagte, wat steeds in besit van die vuurwapen is, is nog op vrye voet.”

Brig. Ivan Perumal, bevelvoerder van die polisiestasie in Johannesburg-Sentraal, het die polisie geloof vir hul vinnige reaksie wat tot die een kaper se inhegtenisneming gelei het.

Perumal het ʼn beroep op motoriste gedoen om waaksaam te wees wanneer hulle in die Johannesburgse middestad ry. “Motoriste in en om Johannesburg moet nie met hul motorvensters oop ry nie.”

Misdaadstatistieke wat vroeër vandeesmaand deur die polisie uitgereik is, toon dat Nyanga in die Wes-Kaap die vyfde agtereenvolgende jaar die meeste kapings gehad het, gevolg deur Mamelodi-Oos in Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rose ·

Daar moet meer polisie sigbaarheid oral wees en minder vet politieke geraasblikke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.