Polisie, boere stuit ‘rowers’ in Noordwes

Met die hulp van boere in die omgewing is nog twee verdagtes aangekeer, terwyl ʼn vierde persoon die bosse in gevlug het. (Foto: Hansie Linde)

Die polisie in Noordwes het met die hulp van boere in die omgewing ʼn stokkie gesteek voor ʼn rowerbende se planne.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in die provinsie, sê veiligheidsbeamptes was Maandag omstreeks 07:00 by ʼn sakeonderneming op Schweizer-Reneke toe drie mans hulle genader en met vuurwapens en ʼn mes gedreig het.

“Die verdagtes het een van die veiligheidswagte ontwapen en hulle volgens die inligting van kontant in ʼn houer beroof,” sê hy.

“Een van die verdagtes het twee van die geldwa se bande met ʼn mes gesteek en dit beskadig voor hulle in ʼn wit enkelkajuit- Ford Ranger van die toneel gevlug het.”

ʼn Skietery het uitgebreek nadat die wegkomvoertuig kort daarna opgemerk is en dit het op die Christiana-pad omgeslaan, sê Mokgwabone. Een van die verdagtes is dood op die toneel aangetref met wat lyk soos ʼn skietwond.

Met die hulp van boere in die omgewing is nog twee verdagtes aangekeer, terwyl ʼn vierde persoon die bosse in gevlug het. Dié verdagte is steeds op vrye voet.

ʼn Vuurwapen en kontant is in die verdagtes se voertuig gevind.

Die verdagtes, onderskeidelik 29 en 33 jaar oud, sal na verwagting binnekort in die landdroshof op Schweizer-Reneke op ʼn aanklag van gewapende roof verskyn. Die Valke het intussen die ondersoek oorgeneem.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiehoof in Noordwes, het die samewerking tussen die polisie en boere, wat tot die inhegtenisnemings gelei het, geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Want ons ken ook die regering , dat hulle uit hulle pad sal gaan om ons toe te sluit as ons skiet.

Trotse Boervrou ·

Wat ‘n lekker berig om te lees. Samewerking is so belangrik. Innige dank aan die polisie en natuurlik aan die boere ook. Boere skroom nooit om van hulp te wees nie. Kom ons doen dieselfde vir ons boere in die land indien hul in nood verkeer. Dit is hoe dit hoort.

melaney ·

Hoop hulle vang die vierde verdagte. Wys maar net wat kan gebeur indien die polisie hulle samewerking gee. Ons sal een van die dae dit nie eers op straat waag nie.

Harley Davidson ·

Die rowers vrees nie meer die polisie of die regstelsels nie so al wat oorbly is die slagoffers moet seker maak die terroriste vrees hulle in die geval die parate boere.

JJB ·

Hoekom ‘rowers’ tussen aanhalingstekens? Pasop maar vir oordrewe korrektheid…

SjN ·

Lekker positiewe nuus op die klein Saterdag, welgedaan manne, kostes aangegaan aan almal betrokke behoort vergoed te word aangesien Sapd dit nie alleen kon doen nie.

Nie Verbaas ·

Hoekom word rowers in aanhalinhstekens gesit? Gee die berig nie duidelikheid nie?

nicolaas ·

Rowerbende klink nie vir my rêg nie, eerder n moordbende soos met plaasaanvalle. Daar was in elk geval n geskietery, jy skiet nie na iemand om hom te roof nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.