Polisie bring hulde aan wyle Piet Byleveld

Piet Byleveld. Foto: Maroela Media

Die polisie het in ʼn huldebetuiging aan wyle oudbrig. Piet Byleveld gesê hy het onverpoosd gewerk in die nagenoeg 40 jaar wat hy in die Suid-Afrikaanse Polisiediens was.

“Dit is met groot hartseer wat die polisie van die voormalige en gevierde baasspeurder se afsterwe kennis neem,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

“Byleveld was ʼn voormalige speurder by die Brixton-moord-en-roofeenheid en vir 38 jaar lid van die polisie voordat hy uitgetree het.”

Dlamini het gesê van Byleveld se voormalige kollegas en die hele polisiebestuur het Woensdag, toe hy in die ouderdom van 67 ná ʼn kort siekbed aan kanker dood is, hulde gebring aan “die man wat onverpoosd gewerk het om berugte misdadigers aan die pen te laat ry”.

“Hy het altyd ʼn besonder hoë suksessyfer behou in die ernstige en gewelddadige sake wat hy ondersoek het. Dit het hy gewoonlik toegeskryf aan sy geduldige aard, veral sy geduld tydens die ondervraging van verdagtes.”

Lt.genl. Deliwe de Lange, Gautengse provinsiale polisiekommissaris, het gesê Byleveld sal deur talle polisiebeamptes en voormalige kollegas onthou word as die man wat skaars sou rus totdat ʼn saak opgelos en suksesvol in ʼn hof verhoor is. “Kriminele sal hom onthou as die speurder met die sagte stem wat hulle uiteindelik met sy unieke onderhoudvaardighede in ʼn hoek sou kry,” het De Lange gesê.

Die polisiebestuur het sy opregte meegevoel teenoor Byleveld se familie, vriende en kollegas betuig.

Maroela Media het Woensdag berig Byleveld was sedert verlede week in ʼn ernstige toestand in die Life Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort nadat kanker in Maart vanjaar by hom gediagnoseer is. Alle kankerbehandelings is Maandag gestaak en hy was onder verdowing.

Byleveld het op talle groot en opspraakwekkende sake gewerk, waar onder die moorde op Sheldean Human, Inge Lotz en Leigh Matthews.

Lees alle vorige berigte oor Piet Byleveld op Maroela Media.

Dié insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv na eNuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ada ·

Ai wat ‘n verlies!
Rus in vrede . Jy het so baie gedoen.
Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.