‘Polisie by Nkandla is roetine-patrollie’

Die polisievoertuig by Nkandla (Foto: Skermgreep uit video deur MightiJamie/Twitter)

ʼn Polisievoertuig buite oudpresident Jacob Zuma se tuiste in Nkandla, KwaZulu-Natal, is deel van die plaaslike polisie se roetine-patrollie.

Só sê brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, oor ʼn plasing op Twitter wat ʼn polisievoertuig voor Zuma se huis wys.

“Ons maan lede van die publiek om nie verkeerde inligting te versprei nie, omdat dit meer skade as goed kan doen,” voeg Naidoo by.

Gerugte het die ronde op sosiale media gedoen dat lede van die Umkhonto we Sizwe-​militêreveteraneverenging (MKMVA) die voertuig verhoed het om die perseel binne te gaan.

Die Konstitusionele Hof het Zuma Dinsdag in ʼn siedende meerderheidsuitspraak tot 15 maande tronkstraf vir sy minagting van die hof opgelê. Die ANC se militêre vleuel het daarna aangedui daar is mense “op pad na Nkandla” om die oudpresident te ondersteun.

Zuma se seun, Edward Zuma, het intussen ook gereageer en gesê watter besluite wetstoepassingsagentskappe ook al neem, hulle hom “eers sal moet doodmaak” voor dit uitgevoer sal kan word. “Ek herhaal, niemand gaan Zuma tronk toe neem voor ek sterf nie … Hulle sal verby my moet kom, wat beteken ek is bereid om my lewe vir pres. Zuma af te lê. Hulle gaan hom nie tronk toe neem terwyl ek nog lewe nie.”

Naidoo het in sy verklaring bygevoeg dat byeenkomste ontmoedig word wat direk teenstrydig sal wees met regulasies om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Byeenkomste is in hierdie stadium ingevolge die vlak 4-afsonderingsregulasies verbode. “Die enigste byeenkoms wat vir minstens die volgende twee weke toegelaat word, is vir begrafnisse met ʼn maksimum van 50 persone,” het Naidoo gesê.

Edward het Dinsdag die situasie met ʼn oorlogsituasie vergelyk. “Wat bedoel jy? Wat van Covid-19-regulasies? Jy weet ons is in ʼn oorlogsituasie hier. Ons kan nie Covid-19-beperkings oorweeg nie. As dit beteken ons sterf, dan sterf ons. En ons is bereid om te sterf,” het Edward bygevoeg.

Ingevolge die hofuitspraak het Zuma vyf dae om hom by die Nkandla- of Johannesburg-Sentraal-polisie aan te meld om sy vonnis te begin uitdien. Die tydperk verstryk Sondag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Juffrou ·

GEEN roetine polisie patrollie by ons huise nie?! Nooit eens ń polisievoertuig beskikbaar nie! Óf petrol!?

Willem ·

Roetine patrollie? Nou waar is die polisie wat ons plase moet patroleer? En hoekom dra baie van daai nie maskers?

Chris dupreez ·

Zuma gaan tronk toe en ons kan nie eers sjampanje koop nie

Snowball ·

Wat ‘n terugslag, ja! Fonteinsjerrie sal maar moet doen!

Pieter ·

Die anc land se regstelsel is een groot grap. As dit iemand anders was dan was hy of sy reguit selle toe.

Eugene ·

Van wanneer af het die MKMVA enige reg om teen mense en polisie op te tree? Van wanneer af het hulle selfs n bestaansreg. Hulle is n private leër wat deur die wet verbied word

Anoniem ·

Belaglik! Daar is nie voertuie beskikbaar vir misdaad nie maar hul kan rondry en na onbenullige mense omsien.

Jack ·

Ja so het malema ook gese en wat het daarvan geword. Hy is baie stil en ek wonder wat broei nou weer uit.

Dirk Mostert ·

Die paaie om Nkandla is in ‘n goeie toestand! Die situasie behoort CR grys hare te gee as dit moontlik was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.