Polisie by OB verkla oor onklaar DNS-stelsel

(Argieffoto: SA Polisie)

Die drukgroep Action Society het sy regspan opdrag gegee om ’n formele klag teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) by die openbare beskermer (OB) in te dien.

Dié stap kom nadat die elektroniese registerstelsel van die polisie se forensiese laboratorium, wat bewysstukke vir DNS-ontledings bestuur, glo reeds maande lank buite werking is.

Die drukgroep oorweeg ook nou regstappe teen die minister van polisie, Bheki Cele, in die hoop dat hy aanspreeklikheid vir die probleem sal aanvaar en uit sy pos bedank.

Action Society sê in ’n verklaring die SAPD se “wanbestuur en wanadministrasie” maak inbraak op Suid-Afrikaners se reg op gelykheid, hul reg op regverdige administratiewe optrede sowel as toegang tot die howe.

Luidens die verklaring het genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, Woensdagoggend in ʼn vergadering met die portefeuljekomitee vir polisie gesê dat die polisie hom van die FDA- (Forensic Data Analysts) ooreenkoms onttrek het en reeds R2,9 miljoen in Sita, ʼn nuwe rekenaarstelsel, belê het.

Action Society is bekommerd oor die integriteit van dié stelsel.

“In ’n land waar meer as 12 000 vroue verkrag en 6 297 mense van Oktober tot Desember verlede jaar vermoor is, is dié stand van sake skokkend. Ons strafregstelsel is in gedrang en al wat die polisie doen is om nóg ʼn vergadering te hou of ʼn komitee te stig,” sê dr. Rineé Pretorius, woordvoerder van Action Society.

Volgens Pretorius sal Action Society se klag teen die SAPD onder meer fokus op kontrakbestuur en die toekenning van tenders; op die FDA se rekenaarstelsels, spesifiek met betrekking tot DNS-toetse, wat weer in werking gestel moet word; en op wysigings aan die DNS-wet wat bepaal dat DNS-monsters van alle veroordeelde kriminele vir ʼn DNS-register ingewin mag word.

Die drukgroep moedig Suid-Afrikaners nou aan om hul name by die klag te voeg. Action Society se regspan beoog verder ’n Paia-hofaansoek teen die SAPD om die vorderingsverslag van agterstallige toetse van die DNS-raad te bekom.

“As ʼn burgerregteorganisasie wat veg vir die regte van vroue en kinders kan ons nie terugsit en wag op terugvoer óf dat daar nog ʼn polisiekomitee gestig word om die polisie te roskam nie. Elke slagoffer het die reg tot hierdie inligting – om te weet óf en hoekom sy of haar DNS-bewyse en hofsaak sloer.

“Ons kan nie wag totdat die polisie se kwartaallikse verslae gereed is of dat hul nog ʼn vergadering belê nie. Met hierdie hofaansoek wil ons druk op die DNS-raad plaas om die probleem uit te sorteer,” sê Pretorius.

Die drukgroep eis intussen die minister van polisie se bedanking.

“Dit is onder sy vaandel en toesig dat hierdie nalatigheid en agteruitgang die afgelope twee jaar geduld is. Weens die agt miljoen bewysstukke wat reeds as gevolg daarvan verlore gegaan het, sal derduisende slagoffers nooit geregtigheid sien seëvier nie. Hierdie kriminele is steeds op vrye voet en die tyd het gekom dat iemand die pak daarvoor vat sodat iemand wat bevoeg is uitkoms kan verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dirk ·

Ek wil organisasies ondersteun wat aksie neem. Ek ondersteun reeds Afriforum, met Trots. Maar nou gaan ek die ouens hard ondersteun want ons moet nou doen, tyd is nou hier om te doen ouens, ons moet nou roer, meer as ooit!

SomeOne ·

dis ‘n goeie begin, begin by die hoe kop en vervolg hom en almal onder hom tot by die laaste een wat verantwoordelik is vir die dna toetse, maak skoon, dank almal sommer van more af

Jakes ·

Hierdie inligting oor moorde en verkragtings wat oor n kort oeriode in SA plaasgevind het stuur ek met graagte die wye wereld in na al my sakevriende en familie oorsee sodat die wereld daar buite kan sien hoe misdadigers die land regeer. Ek skaam my om nou n burger van hierdie eens trotse land te wees wat nou deur onbeholpe en onbevoegde skurke regeer word.

jzjz05 ·

Wonder die 2,9 miljoen wat in Sita belê is moet seker n SEB projek wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.