Die polisie gaan ʼn interne ondersoek gelas om te bepaal waarom die polisiebeamptes eers twee dae later bewysstukke in die bebloede gastehuiskamer waar Yolandi Botes vermoor is, ingewin het. Dit word vermoed dat Botes (35) in dié gastehuiskamer in Kemptonpark, Gauteng, vermoor is, voordat haar liggaam by Villiers in die Vaalrivier gegooi is.
Maroela Media het vroeër berig die Kemptonpark-polisie is verlede Maandag (3 Mei) na ʼn gastehuis in Kemptonweg, digby die OR Tambo-lughawe, ontbied. Die polisie het bloed in een van die kamers aangetref. Daar was ook bloed op die bed, op die vloer, asook in die wasbak en stort in die badkamer.
Sers. Dipuo Ditshego, woordvoerder van die Kemptonpark-polisiestasie, het vroeër bevestig dat daar niemand in die kamer was met die polisie se aankoms op die toneel nie en dat ʼn mes en ʼn leë rooiwynbottel in die kamer gevind is.
Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het intussen aan Maroela Media bevestig dat polisiebeamptes op 3 Mei by die gastehuis opgedaag het, maar die bebloede gastekamer agtergelaat en eers twee dae later die forensiese span gestuur het om bewysstukke in te samel.
Volgens Masondo gaan die ondersoek bepaal waarom die beamptes die kamer gelos het en nie dadelik die forensiese span gestuur het om bewysstukke in te samel nie.
“Indien hulle skuldig bevind word aan wangedrag, sal dissiplinêre stappe teen hulle gedoen word,” sê Masondo.
Die forensiese span sal kan bepaal wie se bloed in die kamer is en sodoende kan bevestig of dit wel Botes sʼn is of nie.
Botes is op 26 April omstreeks 06:30 die laaste keer by die OR Tambo-lughawe gesien toe ʼn Uber-bestuurder haar opgelaai het. Van haar liggaamsdele is verlede Dinsdag digby die Vaal-vakansieoord by Villiers in die Vrystaat gevind. Dit is ʼn dag nadat die bebloede gastehuiskamer gevind is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
24 Kommentare
So enige bewyse sal nou niks beteken in die hof. Die argument sal kan wees dat bewyse geplant is op die toneel…
Nooit ! Kan nie wees nie ! Nie SAPS nie !!!
Die slagoffer was “mos maar net wit”, so die SAPD se nalatigheid verbaas my nie.
Dit is standaard praktyk vir n nuttelose polisiemag.
Hoekom worry? Dit is mos maar net n wit vrou. SKANDE