‘Polisie doen nie genoeg om plase te beskerm’

Foto: Marcelle Maritz

Die DA het Maandag gesê die polisie doen nie genoeg om landelike gemeenskappe te beskerm nie.

Beverley Schäfer, die DA se woordvoerder oor ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou in die Wes-Kaap, het gesê sewe vroue en kinders word elke dag vermoor, asook twee mense wat daagliks weens bendegeweld sterf.

“Die onlangse dood van twee boere, wat in die afgelope paar weke in Klapmuts en Klein Dassenberg doodgeskiet is, is net nog ʼn voorbeeld van die toenemende gewelddadige misdaad wat ons inwoners moet verduur as ʼn direkte gevolg van die versuim van die polisie om geweld in ons provinsie aan te pak,” het Schäfer gesê.

“In ʼn land waar 74 mense in landelike gemeenskappe in die afgelope jaar weens misdaad gesterf het, is dit duidelik dat ons nasionale polisiemag elke enkele Suid-Afrikaanse burger in die steek laat.”

Sy het ʼn beroep op die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid gedoen om die versuim van die SAPD om landelike gemeenskappe te beskerm te ondersoek. “Die SAPD moet dringend die Landelike Veiligheidstrategie toepas en verseker dat landelike polisiestasies ten volle toegerus is om die landelike gemeenskappe te beskerm,” het sy gesê.

“Hierdie misdade raak ook die Wes-Kaapse landboubedryf in sy geheel deur beleggers te ontmoedig om in die sektor, wat ʼn groot deel van die Wes-Kaapse ekonomie uitmaak, te belê.” Schäfer het gesê dit is onmoontlik om die landbou-ekonomie te ontwikkel wanneer boere en hul werkers se lewe voortdurend in gevaar is.

Schäfer se uitsprake kom te midde van die #SwartMaandag-veldtog wat talle paaie en snelweë, onder meer in die Wes-Kaap, Maandag tot stilstand gedwing het. Die #SwartMaandag-veldtog word ter ere van die slagoffers van plaasaanvalle en -moorde gehou.

Schäfer het gesê die DA is toegewyd aan die beskerming van boere in die provinsie. “Ons is dit aan ons landbougemeenskap verskuldig om nie net hul veiligheid nie, maar ook hul lewensbestaan in ons provinsie te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.