Polisie dwing joernalis om foto’s uit te vee

Argieffoto

Argieffoto

Drie polisiebeamptes, wat nie in uniform geklee was nie, het Donderdag glo ʼn Sapa-verslaggewer gedwing om foto’s van haar selfoon uit te vee wat sy buite ʼn Somaliër se winkel in Dobsonville, Soweto, geneem het.

“Die een beampte het oor my skouer geloer om seker te maak dat ek alles uitvee,” het Mpho Raborife gesê. “Hy het daarna gesê ek mag nie ʼn foto op die toneel neem nie, aangesien dit openbare geweld is, so dit val onder hulle jurisdiksie.”

Raborife was op pad werk toe, toe sy verby die drie Somaliërs se winkels gery het. Drie gemerkte polisievoertuie het buite parkeer gestaan. Twee mans was besig om voorraad, insluitend pakke koeldrank, in ʼn wit paneelwa te laai.

Die verslaggewer het afgetrek, haar noodligte aangeskakel en na die gebied gehardloop om ʼn paar foto’s te neem. Sy het teruggekeer na haar motor en het reeds ongeveer 700 m gery toe ʼn polisievoertuig haar wou aftrek.

“Hulle het langs my ingetrek en die venster afgerol en gesê ek moet aftrek,” het Raborife verduidelik. “Toe wou hulle weet waar is die foto’s wat ek geneem het, aangesien ek nie foto’s van ʼn polisietoneel mag neem nie.” Sy het glo vir hulle gesê sy is ʼn verslaggewer en moes bewys lewer deur haar verslaggewerskaart te toon. “Hulle het toe gesê ek mag in elk geval nie die foto’s neem nie omdat ek nie toestemming gevra het nie, en ek kan nie net by ʼn toneel opdaag en foto’s neem en dan wegry nie.”

Een van die beamptes wou die foto’s sien en hy het haar verslaggewerskaart by hom gehou. Hy het haar selfoon ook afgeneem. Daarna het die beamptes gesê hulle wil haar na hul stasiebevelvoerder neem. Sy het gesê sy is reeds laat vir werk en het gevra of sy haar selfoon kan gebruik om haar werkgewer in kennis te stel. Hulle het geweier.

Raborife het daarna aangebied om die foto’s uit te vee en dan haar werkgewer te bel, maar die beamptes het volgehou dat sy hulle na die Dobsonville-polisiestasie moet vergesel. Op pad na die polisiestasie het die polisiebeamptes stilgehou en gesê dit gaan lank duur om nou eers polisiestasie toe te gaan, maar as sy die foto’s sal uitvee, dan sal hulle haar laat gaan. “Ek het gesê dit is ʼn openbare plek en ʼn neutrale sone, maar die polisiebeampte het volgehou dat ek nie daar mag foto’s neem en dit aan die publiek mag “uitlek” nie.

Hulle het haar selfoon en verslaggewerskaart teruggegee nadat sy die foto’s uitgevee het.

Een van die beamptes het haar besonderhede neergeskryf en ʼn ander beampte het ʼn foto van haar motor geneem.

Mark van der Velden, redakteur van Sapa, het gesê die verslaggewer het haarself met haar verslaggewerskaart geïdentifiseer en alhoewel die polisiebeamptes in ʼn polisievoertuig was, het hulle siviele klere aangehad en het hulself nie voldoende geïdentifiseer nie. “Gebaseer op die feite tot dusver, is die gedrag van die beamptes uiters onprofessioneel en voldoen dit nie aan die prosedure nie. Die polisiebeamptes het klaarblyklik moeite gedoen om ʼn joernalis te intimideer en wou inligting in openbare belang onderdruk oor ʼn aktuele nuusstorie oor xenofobie.”

Volgens Van der Velden word die polisie verbied om enige media te dwing om foto’s uit te vee. Hy het bygevoeg dit is nog ʼn voorval van polisiebeamptes wat staande bevele verontagsaam.

Sapa gaan deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ʼn formele klag by die polisiekommissaris se kantoor aanhangig maak.

“Dit wat gebeur het is baie jammer,” het lt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê. “Sy moet ʼn saak aanhangig maak sodat ons dit kan ondersoek. Ek dink nie dit was nodig om die foto’s uit te vee nie, want die verslaggewer het net haar werk gedoen. ʼn Verslaggewer moet toestemming vra wanneer hulle by ʼn misdaadtoneel opdaag. Intussen moet sy die saak aanmeld, want ʼn bewering is ʼn bewering. As sy ʼn saak aanhangig maak, is dit gebaseer op ʼn saak, en nie ʼn gerug nie.”

Raborife sal Donderdag ʼn saak aanhangig maak.

Riah Phiyega, polisiekommissaris, se woordvoerder lt.genl. Solomon Makgale was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Lees alle vorige berigte oor Soweto op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bertha ·

Klink verdag, wonder of die “polisie” besig was met misdaad? Hulle is deesdae skelmer as die boewe in die skadu.

Vic ·

Afhangend van watter soort foon sy het, en wat haar “settings” is, hang daai fotos nog steeds iewers in die wolke rond. behoort dit te kan terugkry.

Ladybug ·

Ten minste het hulle ordentlik met haar gepraat en haar so ook behandel. Sy’s nie rond geruk en geplug en haar eiendom beskadig nie. So ek verstaan nie die bohaai wat sy maak nie.

Om sekere fotos die wêreld in te stuur veroorsaak chaos en in hierdie land wat misdaad en oproerigheid aan die orde van die dag is, dink ek ook dis reg van die polisielede om van haar te eis om die fotos af te vee.

Elizabeth ·

HOE kry Somaliërs lisensies om besighede te bedryf en hoe kry hul werkspermitte? Ons is al op Carte Blanche gewys hoe daar gejag word op buitelanders wat onwettig hier is en die wet is dan nou glo so streng hulle GEE net nie werkspermitte om Suid Afrikaners se werk te beskerm -nou hoe werk die dan? Ek dink dis omkoopgeld/goedere sodat die polisie hul nie in hegtenis kan neem omdat hul onwettige immigrante is!

francois engelbrecht ·

‘n Algemene tendens by die polisiemanne om dit te doen ,vra vir Standerton SAPS ,eerste ding waarop hulle beslag lê ,en wis dan al die fotos uit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.