Polisie en AfriForum vat hande in geveg teen misdaad

Lt.genl. Khomotso Phahlane en Kallie Kriel, Afriforum se uitvoerende hoof. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch.

Lt.genl. Khomotso Phahlane en Kallie Kriel, Afriforum se uitvoerende hoof. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch.

AfriForum en die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Maandag ’n geskiedkundige ooreenkoms gesluit om ʼn geïntegreerde benadering te volg om veiligheid uit te bou en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad te versterk.

Dié ooreenkoms vorm die hoogtepunt van ontmoetings tussen die twee organisasies, met die oog op die verbetering van wedersydse kommunikasie en skakeling, asook om probleme in terme van misdaad gesamentlik te identifiseer en op te los.

Die partye onderneem in die samewerkingsooreenkoms om:

  • mekaar wanneer nodig en waar toepaslik behulpsaam te wees;
  • met mekaar te skakel om vas te stel hoe AfriForum sy aktiwiteite met die strategiese doelwitte van die polisie kan belyn; en
  • te verseker dat inligting wat van gevestigde AfriForum-gemeenskapsveiligheidstrukture verkry is en wat die polisie behulpsaam kan wees om misdaad te voorkom, bestry en ondersoek, met mekaar gedeel word.
Lt.genl. Khomotso Phahlane en Ian Cameron onderteken die  samewerkingsooreenkoms. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch.

Lt.genl. Khomotso Phahlane en Ian Cameron onderteken die samewerkingsooreenkoms. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê dat dié ooreenkoms ruimte skep vir beter kommunikasie tussen AfriForum en die polisie, asook die geleentheid vir beide instellings om meer inligting met mekaar te deel in die poging om misdaad in die land te bekamp.

“Die polisie het AfriForum se veiligheidstruktuur Maandagoggend amptelik as vennoot in die geveg teen misdaad erken. Deur dié tipe samewerking kan ons van Suid-Afrika ’n veiliger plek maak,” het Cameron gesê.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het gesê dat die polisie verbind is tot die voorkoming en bestryding van misdaad oor alle gemeenskappe heen.

“Ons het in die afgelope jaar met AfriForum geskakel en bevestig dat hierdie struktuur ’n belangrike rol te speel het in die deel van inligting, asook met aktiwiteite teen misdaad en ondersteuning aan die polisie om geïdentifiseerde gemeenskappe by aktiwiteite teen misdaad te betrek,” het Phahlane gesê.

“Deur die implementering van die Back to Basics-benadering het die polisie by herhaling bevestig dat die vestiging van vennootskappe oor alle gemeenskapsfere heen ’n integrale rol speel in die versekering dat almal in Suid-Afrika veilig is en voel.

“Die samewerkingsooreenkoms tussen die polisie en AfriForum is een van die tasbare uitkomste van dié benadering, wat daarop gemik is om na alle gemeenskappe in ons multikulturele omgewing uit te reik,” aldus Phahlane.

AfriForum en die polisie sien uit na ’n langdurige en produktiewe verhouding wat tot voordeel sal strek van alle gemeenskappe wat hulle bedien.

Afriforum en die SAPD het vandag 'n samewerkingsooreenkoms onderteken. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch.

Afriforum en die SAPD het vandag ‘n samewerkingsooreenkoms onderteken. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jean ·

Goedso Afriforum, ten minste probeer julle. Ek hoop julle gaan baie suksesvol wees. Meeste mense moan net en doen niks, dankie dat julle iets daaraan probeer doen. Almal praat saam, maar is nie bereid om te help nie.

Theresa B ·

Jip – darem probeer Afriform. Maar ja ek glo ook aan feetjies………………………………

Anoniem ·

Joke..jip..Daar is dan soveel misdaad onder ons polisiemag!

jean ·

Blah, blah, blah….en almal klap handjies.!! (Dankie in elk geval vir wat julle alles probeer doen A Forum!)

Johannes ·

Hou op handjies vat met die verdomde terroriste staat! Hulle is JUIS die probleem en rede waarom ons met ‘n misdaad probleem sit. Bring eerder ons eie privaat gewapende veiligheidsmag op die been wat ons eie mense sal beskerm! Hel, is dit so moeilik om in te sien? Soms wonder ek hoekom ek nog AfriForum steun…

Poot ·

Johannes
Gaan jou sogenaamde “privaat gewapende veiligheidsmag” ook die moorde, verkragtings, kapings en,en,en,en hanteer? Gaan julle die saak dosiere registreer en speurders ook speel.
Regtig……jy lewe in sprokies wêreld.

Alida ·

Sies julle behoort julle te skaam. Ten minste probeer A Forum iets doen. Die Kommissaris lyk op die oog af nie na ‘n onaardige en onredelike persoon nie. Skaam julle. Tipies afrikaners wat alles afskiet. Dit gaan al deur die eeue so – klomp dwarstrekkers.

Johannes ·

Terloops, hoeveel plaasaanvalle en moorde is gepleeg sedert die polisie plaasaanvalle in April 2016 “amptelik geprioritiseer” het. Ook so na ‘n “oorkeenkoms” met AfriForum?

SP ·

Ek stem saam Alida! Kom ons gee dit tenminste n kans,voor ons sommer net negatiewe kritiek lewer.

JC ·

Kom ons kyk en sien wat gebeur…Ons Afrikaners, alhoewel ‘n baie unieke (en wonderlike) gemeenskap in Suid-Afrika, lewe NIE op ‘n eiland nie. Ek stem beslis saam met Johannes oor private inisiatiewe, maar HENG, ons het tog ook die SAP nodig, het ons nie? Ons kan hulle tog nie heeltemal vervreem en ons heeltemal afsluit van die SAP nie, en hul van ons inisiatiewe nie. Die SAP doen tog nog partymaal onder die omstandighede regtig goeie werk, ons durf nie ons rug daarop draai nie, maar ja, private inisiatiewe is ook broodnodig!!

Hannes ·

Meeste van julle is doem profete. Tenminste probeer Afriforum.
Meeste van julle gee julle opinies op sosiale platvorms soos did. Hier kan jy mos grootbek wees en snaakse goed kwyt raak. Realiteit is julle wat so veroordeel vanaf jou gemaklike huis….julle gaan self eendag hierdie amalgamation tussen SAPD en Afriform gebruik. Hou op grootpraat op social media en staan op en doen iets self. Mense lag vir julle! Dankie Afriforum dat julle probeer.

Jan ·

Moet Afriforum nou die polisie leer hoe om hulle werk te doen ? Dis ‘n skande !

Poot ·

Jan
BAIE dinge in hierdie land van ons is ‘n skande. Ek is seker daar by jou werk, waar en wat dit ookal is, gebeur ook skandelike dinge. Maar dit is seker nie so hoë profiel nie….en dis hoekom mens nie van daai skandes weet nie.

Lance ·

Dis goed en mens hoop dit kan n verskil maak …. maar die polisie sit met mense wat dom en onkundig is en wat net reaktief optree ….sapd is eintlik maar pateties agv onkunde onderbefondsing en eenvoudige werksetiek

Sarel Strydom ·

So tipies, ons het geen moed meer nie. Klaar oorgegee want al wat gesien word is die negatiewe. Ek stem saam met Hannes. Die ironie is hoeveel van julle doemprofete is deel van Buurtwagte. Mense praat baie maar probeer lede vir Buurtwagpatrollie werf dan het niemand tyd nie. Danie vir Afriforum en julle Buurtwagpatrollies wat nie net agteroor sit en kritiseer nie.

Johannes Meintjes ·

Ons wetsgehoorsame maar misdaad-geteisterde burgers in die Nuwe SA sien geweldig uit na die tasbare resultate! Alle beskikbare rolspelers m.b.t. Burgerlike Beskerming in SA verseg steeds om saam om een tafel te vergader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.