Polisie fnuik bankroof  

Die motor waarin verdagtes gereis het. (Foto: Verskaf)

Sewe verdagtes is Maandag in hegtenis geneem nadat die polisie inligting oor ʼn beplande bankroof ontvang het. Die verdagtes wou glo ʼn kitsbank buite Tzaneen, Limpopo, opblaas. Die polisie het op ʼn vuurwapen, ammunisie, kontant en plofstof beslag gelê.

Die polisie in Tzaneen het inligting ontvang oor verdagtes wat in ʼn silwer Audi ry en wat glo beplan het om ʼn outomatiese bankteller in ʼn nedersetting buite Tzaneen op te blaas. “Die polisie het die voertuig genader wat langs die OTM geparkeer was. Toe die verdagtes die polisie gewaar, het hulle weggery en kon daarin slaag om die polisie te ontduik,” sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo. “Die polisie het egter die verdagtes agternagesit en in die Bokgaga-nedersetting op hulle toegeslaan.”

ʼn Onbekende bedrag kontant, plofstof en ammunisie is in die verdagtes se besit gevind. Die polisie het ook beslag gelê op die Audi.

“Die verdagtes, almal tussen die ouderdom van 24 en 43, sal na verwagting Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van ongelisensieerde ammunisie en sameswering om ʼn kitsbank op te blaas,” sê Mojapelo.

Die polisieondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Burgermeester ·

Ag manne, hoe verlang ek na die dae toe iemand ‘n bank wou beroof, moes hulle klapmusse of sykouse oor hulle gesigte trek en fisies in die bank ingaan. Lyk my as jy deesdae ‘n bank wil beroof moet jy ‘n kitsbank opblaas. Deesdae se jongmense het dit al hoe makliker. Tyd staan ongelukkig nie stil nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.