Polisie fnuik beplande plaasaanval

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

ʼn Beplande plaasaanval naby Port Alfred in die Oos-Kaap is gefnuik nadat polisiebeamptes vooraf ʼn wenk daaroor ontvang het.

Lt. Luvuyo Mjekula, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het inligting ontvang dat vier verdagtes beplan het om Maandagaand op ʼn plaas in die omgewing toe te slaan. Misdaadintelligensiebeamptes, speurders, lede van die K9-eenheid en die hoof van die plaaslike landbouveiligheidwag, het saamgewerk om ʼn lokval vir die verdagtes te stel.

Die aand omstreeks 22:00 het die polisie ʼn motor naby die plaas voorgekeer en deursoek. ʼn Man en driejarige kind was in die motor en die man het aan die polisie gesê dat hy drie mans by die plaas afgelaai het. Hy het beweer hy weet nie hoekom die mans na die plaas wou gaan nie. Die kind in die motor is na sy ma toe geneem en die man is ingeneem vir ondervraging.

Volgens Mjekula kon die polisie egter nie die man met die beplande plaasaanval verbind nie en hy is later weer vrygelaat.

“In die vroeë oggendure het die polisie nóg inligting ontvang oor die beplande aanval en ʼn padblokkade is op die hoek van Bathurst- en Standerwickstraat opgestel. Omstreeks 05:00 het dieselfde voertuig waarin die man en kind was nadergekom en die polisie het die voertuig probeer voorkeer,” het hy vertel.

Die insittendes het op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Mjekula het gesê een van die verdagtes in die voertuig is in die skouer gewond, maar geen van die polisiebeamptes is beseer nie. Die beseerde verdagte is onder polisiebewaking na die hospitaal geneem en die ander drie verdagtes is in hegtenis geneem. “Een van die verdagtes is dieselfde man wat die polisie vroeër die aand ondervra het,” het Mjekula gesê.

Die polisie het beslag gelê op ʼn 9 mm-vuurwapen en patrone in die motor. Die verdagtes sal tereg staan op poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Mjekula het aan Maroela Media bevestig dat die verdagtes ook met ʼn vroeëre misdaad verbind word, waartydens ʼn voertuig verlede naweek in Peddie gekaap en die bestuurder doodgeskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

m ·

Goeie werk, wie weet wat hierdie goed nie alles beplan het nie.

JC ·

Ekke net bly hul is gevang!
Hopelik ‘n “momentum swaai” en hoop ook dit gee hoop aan onse mense!

Tiger ·

Ek hou niks van ‘n “gewondery” nie.Wie betaal sy mediese kostes en verblyf in die tronk agterna???Die belasting betaler.En mediese kostes is hemel hoog .’n Begrafnis is goedkoper.

Elmarie ·

Snaaks dat hierdie artikel verskyn kort na gister se artikel wat gese het dat mans in polisie univorm n gesin aangeval het.
Klink my hierdie dinge word haarfyn beplan.

Gesiggie ·

Ja nee toe ek lees van die verdagte wat voorgekeer is, gewonder hoe kon hy nie betrokke wees, hoe beplan jy n aanval met n 3 jarige kind in die kar?? Well Done aan die Polisie se vinnige optrede en die wat die wenk gegee het, wens ons kan meer Plaas aanvalle op so n manier stop… kan net dink wat met die arm mense op plaas sou gebeur as die Polisie nie betrokke was…hou hul asb in die tronk, voor hul weer terug wil kom…

Stem saam ·

Stem saam Gesiggie met elke woord, die enigste iets anders is die 3 jarige – arme kind is seker in training!!! Dit is net as buffer gebruik om aandag af te lei. Baie baie geluk Polisie, ons is trots op julle!!!! Herstel die naam en vang daai ander wat hul so voordoen as beamptes!

Miemie ·

Slaap ek of wat??? 22h00 klaar geweet van die plaasaanval wat beplan word, gelos tot nog inligting gekry is en toe eers die aanvallers voorgekeer??????? 5h00 die oggend, dis 7ure om te steel, moor en weg te kom daarmee as jy my vra. Snert. dat hulle gevang is deur die polisie, dis so haarfyn beplan.

Miemie ·

en as jy my vra net min genoeg aangejaag om maandag op ‘n waarskuwing los gelaat te word.

Deon ·

Die man is die eerste keer deur die polisie voorgekeer in ‘n voertuig wat gekaap is en waar iemand doodgeskiet is en hulle laat hom gaan nadat hulle hom ondervra het?

tamboti ·

Deon dit was dalk nie dieselfde motor nie maar die “knap” SAP is eintlik baie dom, jy los nie ‘n verdagte sonder om sy rekords en verwysings deeglik na te gaan nie! En in hierdie verdagte omstandighede moes hulle hom dophou nadat hy vrygelaat is. Ek meen 3 persone by plaas aflaai en jy weet nie hoekom nie??? Vroeer jare sou jy pak kry oor sulke bog!!

Deon ·

tamboti, in die berig noem hulle dat dit dieselfde motor is waarin die man en kind vroeer voorgekeur was

tamboti ·

Nee ek lees; ‘n motor nie dieselfde motor nie, miskien in ander berig ?

Sê net ·

Lees die laaste reël van die berig mooi. Die verdagtes word verbind met ‘n ander misdaad waar ‘n motor gekaap en die bestuurder doodgeskiet is. Daar word niks genoem van dat dit dieselfde voertuig is nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.