Polisie fnuik gevaarlike misdaad

(Argieffoto: pixabay)

Die Gautengse polisie het Vrydag op ʼn bende gewapende mans toegeslaan wat glo besig was om ʼn gevaarlike misdaad te beplan.

Lirandzu Themba, woordvoerder van die minister van polisie, het in ʼn verklaring gesê twee polisiemanne wat gebaseer is by Sandringham-polisiestasie in Johannesburg het Vrydag ʼn verdagte voertuig met drie insittendes opgemerk.

“Toe een van die verdagtes uit die motor klim, het die polisiemanne opgemerk dat hy ʼn vuurwapen by hom dra en hom toe genader. Daar word beweer dat die verdagte toe sy vuurwapen uitgeruk en op die polisie begin skiet het,” het Themba gesê.

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

ʼn Onbekende aantal gewapende mans het daarna uit ʼn nabygeleë huis te voorskyn gekom en ʼn skietery het tussen die polisie en verdagtes uitgebreek. “Die polisie het een verdagte in hegtenis geneem. Die res van die verdagtes het in twee motors en te voet gevlug.”

Volgens Themba het die polisie die huis deursoek en op ʼn aantal AK47’s, R1-gewere en pistole afgekom. Hulle het ook magasyne vol ammunisie en ander roofapparaat gekry. In die huis se agterplaas het hulle op 11 motors afgekom, waarvan sommiges gekaap is.

ʼn Soektog is begin na die verdagtes wat ontsnap het.

“Hierdie insident is een van baie wat wys dat die polisie nie te midde van die Covid-19-pandemie versuim om aan die grondwetlike mandaat van die polisie te voldoen nie, naamlik om misdaad te beveg, te voorkom en te ondersoek,” het Bheki Cele, minister van polisie, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Werner ·

As dit so suksesvol was hoekom net een in hegtenis geneem die res Sal nooit gevind word nie

Casper ·

Waar kom die AK 47 en R1 gewere vandaan. Is die gerugte waar dat polisielede ongelisensieëde vuurwapens aan misdadigers verkoop.Hoe akkuraat is die boekhouding by polisiestasies as vuurwapens ingehandig word vir vernietiging.

Ben ·

Baie mooi. Haal my hoed vir daai polisie af. Hou so aan Trots op julle.

Nie Verbaas ·

Ag asseblief “meneer” Cele. Dit is een insident uit hoeveel uit? Wat van al die ander misdaad?

Jaco ·

Ek dog nog heeltyd dat die verbreking van simpel inperkingsregulasies die enigste gevaarlike misdade in SA is.

Persheks Adri ·

Wat ‘n jammerte dat die verdagtes weg gekom het, maar ten minste is daar onwettige wapens van die straat af!

Anel ·

En wetsgehoorsame burgers moet hulle vuurwapens inhandig! Mens hoor ook nooit dat waar wapens op misdaadtonele gevind word, soos hier, dat die wettige eienaars opgespoor word nie. Die nommer word lyk my nooit nagegaan nie. Al is dit afgevyl, is daar metodes om die te herwin. Want ek laat my nie vertel dat daardie wapens wettiglik in die kriminele se hande was nie. En as dit was, kan hulle mos so opgespoor word.
Geluk was ook aan die polisie kant. Maar goeie werk. Maar Cele kan nie die bewerings maak dat hulle nog steeds misdaad bekamp nie. Dan moes daar baie minder misdaad gewees het, en soos ons weet floreer misdaad. As iets nie toevallig in van hulle se skote val nie, soek hulle nie regtig daarvoor nie.

Natasha ·

Nie dat ek nie dink dis puik werk nie, maar sekerlik ook net gebeur oor daar nie ‘n see in JHB is nie en hulle ‘n breuk gevat het om restaurante en pubs dop te hou. Jammer, maar ek het niks meer vertroue in die SAPD nie en jammer vir die opregte SAPD lede wat ek nou ook te na kom.

Friedrich ·

Mooi SAPD. Daar is baie negatiewe kommentaar, maar julle het goed gedoen.

Gerrie ·

Ek vermoed die misdaad is aan alkoholmisbruik te wyte, of hoe Grootbheki?

Sarel ·

Neem saam met knippie sout.
Gauteng….hoekom die Minister se Woordvoerder en nie plaaslike woordvoerders soos gewoonlik nie

2 x Polisienanne en huis vol ” Boewe” en toe hardloop die Boewe weg….nie die Boewe wat jy deesdae in SA kry nie,
Hulle hol nie weg nie hulle skiet veral as hulle so swaar bewapen is…
Wie glo hierdie storie…..?

Kobus ·

As hulle só sleg skiet dat ‘n voertuig én vlugtendes te voet kan wegkom…

pompies ·

Dit is nou lekker want die wapen amnestie is verby en die polisie kantore is vol ingehandigde wapens, so die skelms kan alweer kies en keur wat hulle wil he, en hulle sal seker nog kan gaan omruil as hulle voel hulle wil iets anders he.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.