Polisie fnuik rooftog ná wenk

Argieffoto: SAPD/Facebook

Vyf verdagtes wat na bewering beplan het om ʼn onderneming in Benoni aan die Oos-Rand te beroof is vandeesweek vasgetrek voordat die beweerde beplande rooftog uitgevoer kon word.

Lt.kol. Mack Mngomezulu, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie se taktiese reaksie- eenheid het inligting ontvang omtrent ʼn beplande rooftog by ʼn onderneming in Kingsway en het uit dié inligting ʼn verdagte voertuig met vyf insittendes as die betrokke verdagtes geïdentifiseer.

“Nadat die verdagtes opgemerk het dat die polisie hulle monitor, het hulle probeer om weg te jaag en die polisie het hulle agternagesit,” het Mngomezulu gesê. Die polisie kon daarin slaag om die verdagtes op die R21-snelweg naby die Nellmapius-afrit in Pretoria vas te trek.

Die verdagtes se voertuig is deursoek en vier ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie is daarin gevind.

Die verdagtes is in hegtenis geneem en aangekla van besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, sameswering tot sakeroof en roekelose en nalatige bestuur. Hulle sal binnekort in die Benoni-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.