Ses persone is Dinsdag in hegtenis geneem nadat die Wes-Kaapse blitspatrollie ʼn rooftog by ʼn metaalmaatskappy in Kraaifontein in Kaapstad verhoed het.
“Die polisie het Dinsdag omstreeks 11:00 ʼn wenk ontvang oor verdagtes in vier voertuie wat op pad is om SA Metal in Industrialweg te beroof,” het kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie het ondersoek ingestel en een Honda Jazz op die perseel aangetref. ʼn Blou Citi Golf was buite die perseel geparkeer.”
Die ses verdagtes is aangekeer toe hulle wou vlug.
“Die polisie het ʼn 9 mm-pistool in een van die voertuie gevind. Die Citi Golf is verlede maand in Elsiesrivier gesteel en die silwerkleurige Honda Jazz is in Somerset-Wes as gesteel aangemeld,” het Kinana bygevoeg. Die polisie het die twee voertuie gekonfiskeer.
Die ses persone sal in die hof verskyn op aanklagte van, onder andere, die besit van gesteelde voertuie en ʼn ongelisensieerde vuurwapen.
10/10 vir die polisie. Ek hoop ons regstelsel gaan ook SY kant bring!!!