Polisiebeamptes in Mpumalanga het Vrydagoggend ʼn transitorooftog in Witbank gefnuik.
Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die opsporingspan het ʼn wenk ontvang oor ʼn sindikaat wat ʼn transitorooftog in die Witbank-omgewing beplan en hulle het vinnig reageer.
“Hulle het by die betrokke huis op twee voertuie afgekom wat vroeër in Gauteng gekaap is. Die voertuie, albei Volkswagen Polo’s, sou na verwagting as wegkomvoertuie gebruik word,” het Bhembe gesê. “Tydens ʼn verdere ondersoek op die perseel het beamptes ook op ʼn roeteskedule-lys afgekom van kontant-in-transito-voertuie in die gebied.”
ʼn 35-jarige man, vermoedelik die eienaar van die huis, is in hegtenis geneem. Hy sal binnekort in die Witbank-landdroshof verskyn op aanklag van onder meer kaping en die besit van gesteelde voertuie.
Die polisie se ondersoek duur voort.