Polisie fnuik ‘transitorowers’

(Argieffoto)

Sewe verdagtes is oor die naweek in hegtenis geneem voordat hulle vermoedelik ʼn transitoroof by die poskantoor in Belfast in Mpumalanga kon uitvoer.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê polisiebeamptes het inligting ontvang oor ʼn beplande transitoroof waarna hulle Saterdagoggend op die verdagtes in drie verskillende voertuie toegeslaan het.

Volgens Naidoo is twee verdagtes in ʼn Volkswagen in Masangostraat in Belfast voorgekeer en in hegtenis geneem. Die polisie het gedurende dié inhegtenisneming op een vuurwapen beslag gelê.

Die owerhede het terselfdertyd sowat 20 km van die poskantoor op ʼn tweede voertuig, ʼn Toyota-bakkie, op die N4 toegeslaan. Drie verdagtes is in hegtenis geneem en daar is gedurende dié inhegtenisneming op drie vuurwapens beslag gelê, het Naidoo gesê.

Volgens Naidoo is nog twee verdagtes kort daarna in ʼn Volkswagen Polo in hegtenis geneem. Dié verdagtes was in die besit van ammunisie asook ʼn paar nommerplate met ʼn Vrystaatse registrasienommer. Die nommerplate was onder een van die motor se sitplekke versteek.

Die sewe verdagtes, almal tussen 28 en 45 jaar oud, sal moontlik nou teregstaan op aanklagte van sameswering om roof te pleeg, die onwettige besit van wapens en ammunisie en/of die besit van vermoedelik gesteelde voertuie, het Naidoo gesê.

Gen. Khehla John Sitole, provinsiale polisiehoof, het die inhegtenisnemings verwelkom. “Die SAPD streef na proaktiewe reaksie op die hantering van ernstige en geweldsmisdade,” het Sitole gesê.

Maroela Media het vroeër berig vier poskantore is verlede week deur rowers geteiken. Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) het verduidelik dat sy takke veral ʼn teiken is wanneer die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) se maatskaplike toelae uitbetaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Ek hou van die stelling…”” proaktief ” ongelukkig weet die polisie van 2020 nie wat dit beteken nie as hulle gevra word gaan ek wed die meeste gaan sê “om by kfc te wees voor hulle hoender uitverkoop is”.

Boerkind ·

Proaktief?? Wag onskuldige branderplankryers op die strand in… Kyk hulle ooit na plaasmoorde en tree proaktief op? Ek het steeds hoop omdat daar nog ‘n groep, opregte, hardwerkende polisiemanne is. Vir hulle het ek groot respek en waardering!

JohanR ·

Mpumalanga, Limpopo en Nord-Wes – transito roof hemel. Die ANC het geld nodig vir verkiesing, en Jacob se hof verskynings. Wat het geword van Shamila Batohi, en die NPA? Na Shaun Die Skaap dog ek met Shamila Batohi hier is weer hoop vir Suid Afrika. WAS ek verkeerd, of was ek verkeerd? 1ste Febuarie leiseld opgeneem….nou al 16 maande en nog NIKS van enige stofasie nie, en al die ANC
misdadigers loop nog rond!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.