Polisie gaan uitstaande sake in Eldoradopark bekyk

Die minister van polisie, Bheki Cele, tydens ‘n besoek aan Eldoradopark in Gauteng. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die minister van polisie het Donderdag onderneem om ʼn sogenaamde kliniek vir onopgeloste sake op die been te bring, ná ʼn hulpkreet uit die gemeenskap van Eldoradopark.

Bheki Cele was lid van ʼn paneel wat ook bestaan het uit die LUR vir gemeenskap en veiligheid in Gauteng, Faith Mazibuko, die Gautengse polisiehoof lt.genl. Elias Mawela, asook die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole. Hulle het ure lank geluister na roerende verhale oor dwelms, verkragting, korrupsie en geweld teen inwoners van dié buurt.

Angelina Williams het vertel selfs nadat haar dogter se aanvallers uitgewys is, loop hulle steeds vry rond.

“My dogter is verlede maand vyf keer in die been geskiet. Dit gaan sleg met haar. Niks gebeur [met die ondersoek] nie. Daar is steeds geen uitkenningsparade gehou nie, al het ek die name [van die vermeende aanvallers] vir die polisie gegee,” het die betraande ma vertel.

“Ek wil hê dat die saak op ʼn nasionale vlak ondersoek word, omdat ons polisie omkoopgeld aanvaar. Sy skryf tans rekordeksamen en is nog steeds getraumatiseer.”

Nóg ʼn inwoner, Fiona Adams, het gesê sy het ʼn skietery tussen haar swaer en ʼn buurman gesien wat haar kinders geweldig ontstel het.

“My kinders was nog besig om buite te speel, toe die skote skielik begin klap. Kan jy jou indink hoe die kinders moes voel? Ons vrees vir ons kinders se lewe. Ek weier om ʼn gevangene in my eie gemeenskap te wees. Júlle moet opstaan vir ons, want ons vertrou nie die polisie nie,” het Adams gesê.

Korrupsie in polisiegeledere is ʼn groot bron van kommer vir inwoners van Eldoradopark.

“Julle moet die polisiebeamptes rondskuif. Die politici kom maak ʼn ophef hier en daarna is ons weer terug waar ons begin het. Julle voel niks vir ons nie,” het Sam Sithole gesê.

“Hulle gee net om wanneer ons moet stem. Polisiebeamptes gaan in Vryheidspark op afsprake met staatsvoertuie, terwyl mense op mekaar losbrand. Hulle neem ons bloot nie ernstig op nie.”

Cele het inwoners beloof dat ʼn kantoor op die been gebring gaan word om na alle onopgeloste sake op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak te kyk, sodat die betrokkenes afsluiting kan kry.

“Dit is ʼn jammerte dat dit ons so lank geneem het om hier uit te kom, maar ek is eintlik bly, want anders is ek beskuldig van stemwerwery. Elke keer dat ons die mense van Eldos besoek, wil hulle misdaad aanmeld.

“Ek doen nou ʼn beroep op die gemeenskap om saam te staan, julself te organiseer en saam te werk. Daar is ʼn lang lys van uitstaande sake, so ons nooi almal om hulle verhale te vertel.”

Hy het inwoners ook gevra om die name te verskaf van polisielede wat hulle van korrupsie verdink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willehond

Blah blah blah. En so kom ons om.

Andre

Minister, ek wil graag weet waar julle die dosiere gaan kry om na te kyk.

PPP

Nee man ons maak gou gou n ander dosier oop sodat na n jaar nie meer nodig is om te vervolg nie, lekker man

Stelling

Maroela, wat is dit met die foto van die minister. Lyk amper asof hy vliee vang. Goeie illustrasie van sy karakter… Hehehe

aj

Bewapen en beskerm jou SELF! Niemand gaan jou beskerm nie! Die ANC regering is jou vyand … en dis belaglik om te verwag jou vyand jou sal beskerm. Wat nou gebeur is wat in revolusionêre praktyk bekend staan as die GROOT HERVERDELING van RYKDOM. In SA verloop dit volgens ‘n baie slinkse strategie. Rykdom word nou ‘geskuif’ vanaf die “‘have’s’ na die ‘havenot’s” sonder dat die ANC daarop beslag hoef te lê (dit sal die internasionale wêreld ontstel!) … eenvoudig deur die regstelsel te verlam. Deur die regstelsel te verlam ‘beweeg’ die rykdom vanself vanaf die rykes na die armes… Lees meer »