Polisie gekap oor dominee se moordsaak

Ds. Liezel de Jager (Foto: Twitter)

Dit is Donderdag presies ’n jaar ná die moord op ds. Liezel de Jager en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het nog geen antwoorde verskaf oor wat daardie dag by die pastorie van die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti in KwaZulu-Natal gebeur het nie.

Liezel se pa, Henk van Zyl, het nou Action Society opdrag gegee om die saak op te volg. Dié drukgroep gaan met hul regspan vergader om op te tree teen polisiebeamptes “op grondvlak” wat die saak laat sloer.

Liezel is die oggend van 13 Oktober 2021 met wurgmerke aan haar nek dood by die NG kerk Suidkus in Amanzimtoti se pastorie gevind nadat sy saam met ’n groep mense gaan draf het. Niks van Liezel se besittings is tydens die moord gesteel nie en haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref.

Nog geen inhegtenisneming is ook die afgelope jaar gemaak nie.

“Daar was nog geen terugvoer of vordering deur die SAPD nie,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society. “Die SAPD se stilte is oorverdowend. Die gesin moes al die opvolgwerk doen met geen resultate nie. Sommige van die SAPD-lede het selfs gesê hulle voel ‘hopeloos’ weens die swak prestasie van hul kollegas.”

Maroela Media het onlangs self die polisie genader rakende hul vordering in die saak. Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het bloot aangedui dat die saak nog ondersoek word.

Liezel se pa het ook aangedui dat die familie geen onderhoude gaan toestaan terwyl die saak nog sloer nie.

Maroela Media het destyds berig Liezel se man, Werner, het kort ná die moord verlede jaar verdwyn. Die wewenaar is later in ’n ernstige toestand in sy motor in ’n suikerrietplantasie in Illovo‑Suid gevind en na ’n hospitaal gehaas.

Dit is nie duidelik waar Werner hom nou bevind nie.

  • Gemeentelede van die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti sal na verwagting Donderdagoggend by die kerk bymekaarkom ter nagedagtenis aan Liezel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Louwrens ·

Net so is daar ook nog geen antwoorde op die moord van Corli van der Walt, die veearts van Krugerdorp nie. Die “verdagtes”loop nog vryelik rond en gaan aan met hul lewens terwyl geliefdes vrae het.
Die polisie is pateties verby.
Het self n familielid verloor onlangs wat vermoor was, haar liggaam is in n sloot gelaat en nadat dit ontdek is het die ondersoekbeampte belowe om die familie te besoek maar helaas geen besoek. Dan kla die polisie as mens dit verder voer en hul verkla.
Sterkte vir almal wat deur sulke SWAK PATETIESE diens in die steek gelaat word.

Prikkie ·

Hoekom moet daar altyd eers druk toegepas word voordat die SAPD hulle werk doen? En dan sloer dit nog verder by die NVG- hoekom?

Jillian ·

Is dit nie reeds duidelik genoeg wie die skuldige is nie? Of kort julle teken prentjies??

Lillian ·

Vele voorbeelde van die polisie se onvermoë om moord sake op te los. Ekt ‘n vermoede die moordenaar is reg onder almal se neuse…

Keelvol ·

Kan Jy n moord saak oplos? Dis glad nie soos op Chicago P.D. nie.

Herman L ·

Dit sou miskien gepas wees as die gemeente bid dat die saak behoorlik aandag kry en opgelos word.

Christine ·

Dit is pateties dat ons die polisie daaraan moet herinner en hulle moet aanmoedig om hulle werk te doen. Die gedagte dat my veiligheid in die hande van die Suid-Afrikaanse polisie is, is skrikwekkend.

Keelvol ·

Het jy al onder sulke omstandighede gewerk? Dra Jy 100 dossiere ?

Danie ·

Net nog n bewys van slegte speurders en onbekwame polisie bevel.Die probleem sy is nie belangrik genoeg vir media sensasie.

Keelvol ·

Jy reken…… ek wil graag sien of jy veel beter kan doen.

Hannelie ·

Ek stem hulle is onbevoeg verby. Sit net stoele vol om ‘n salaris te kry.

Theuns ·

Skande! Met so swaj skreeuende tantrum as minister is dit nie snaaks SAPS lede is ook skreeuend SWAK en net eenvoudig lui en onbevoeg nie. Kry privaat ondersoekers.

Keelvol ·

Theunis, private speurders ondersoek 1 saak op n slag. SAPD speurders ondersoek omtrent n 100 of so per ondersoek beampte.

Fran ·

Duisende kriminele in die polisie en ANC. Hoekom sal hulle misdaad beveg?

Veronika ·

Ek weet nie of haar man so onskuldig is nie…..
Is maar net n gevoel……

Keelvol ·

Soos ek die kommentaar lees, wonder ek by myself of die mense enige idee het wat dit vat om n. Moord te ondersoek? Jy as ondersoek beampte sit met om en by 100 dossiere. Jy kry elke dag dossiere by. Almal soek antwoorde. Jy weet later nie meer waar Jy moet vat en waar jy moet los nie.

Die publiek kla gedurig deur, want Hulle dink wat hulle op TV en in die movies sien is hoe dat ondersoeke gedoen word. Maar dit is nie. Jy kan nie elke dag genoeg tyd aan n enkele dossier spandeer nie.

Dis maklik om te sê die speurder is lui. Maar het jy n benul van wat in n moord ondersoek ingaan?

Dries ·

Stem beslis saam met jou. Maar gebrek aan bevoegde hoër gesag is die oorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.