Polisie gekap oor vlaag misdade in Kaapstad

(Argieffoto bloot ter illustrasie.)

Die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) is vandeesweek opnuut gekap oor die onlangse vlaag geweld in Kaapstad.

Dít volg nadat ses mense Sondagaand, in die soveelste voorval vanjaar, in Khayelitsha doodgeskiet is.  ʼn Skietery by die New Somerset-hospitaal in Seepunt het Saterdagaand ook die lewe van twee pasiënte en ʼn polisiebeampte geëis.

Dit het boonop aan die lig gekom dat talle Wes-Kaapse speurders glo nie voldoende opleiding het nie, terwyl hul informante ook maar yl gesaai is. Kenners vra nou dat die polisiediens afgewentel word en dat spesialiseenhede weer ingestel word om misdaad behoorlik te bekamp.

Die DA het Dinsdag onthul dat 20% van poste by die Khayelitsha-polisiestasie vakant is.

“Ná die massamoorde Sondag op ses mense in die gemeenskap, is dit uiters kommerwekkend dat die SAPD-bestuur nie verseker het dat die gebied behoorlik toegerus is om inwoners veilig te hou nie. “Hoewel ons die gebruik van die teenbende- en misdaadintelligensie-eenhede verwelkom as voorkomende maatreëls om die misdaad te bekamp, ​​sal ons vrae by die parlement indien om die huidige stand van hierdie onderskeie liggame vas te stel,” het Ricardo Mackenzie, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Dinsdag gesê.  Volgens Mackenzie het speurders wat na dié stasie ontplooi is, gemiddeld 106 dossiere elk om te hanteer. “In ’n land waar baie inwoners vir hul eie veiligheid en dié van hul geliefdes vrees, is dit onaanvaarbaar dat die SAPD verwag misdaad opgelos sal word wanneer ons speurders met werk oorweldig is.” Volgens inligting wat die provinsiale polisiedepartement aan die staande komitee vir gemeenskapsveiligheid deurgegee het, word speurders by Wes-Kaapse polisiestasies ook deur ʼn tekort aan kennis en hulpbronne gepootjie.

Luidens statistieke is 45,8% van speurders nie in die basiese speurleerprogram (BDLP) opgelei nie, terwyl 71% geen informante het nie.

Byna 92% het nie die gespesialiseerde speurleerprogram voltooi nie, terwyl 57% van alle speurbevelvoerders in die Wes-Kaap nie die vereiste opleiding het nie.

“Dit is juis om dié rede dat die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid sy oorsigrol uitbrei om te verseker dat die SAPD sy mandaat uitvoer. Mettertyd word dit al hoe duideliker waarom polisiëring afgewentel moet word na bekwame, subnasionale regerings. “Ons doen ’n beroep op die SAPD in ons provinsie om alle pogings te bespoedig om ons manne en vroue in blou behoorlik toe te rus sodat hulle hul werk doeltreffend kan doen,” sê Mackenzie.

Die Vryheidsfront Plus het die onlangse geweldvoorvalle ook in ’n verklaring veroordeel. Die party meen dit is aanduidend van ʼn nasionale regering wat die stryd teen ernstige misdaad verloor het.

“Die minister van polisie, Bheki Cele, se besoeke aan misdaadtonele en sy bywoning van begrafnisse is van geen waarde vir die veiligheid van die publiek nie. Cele moet misdaad voorkom. Dit help nie hy tree op as begrafnisondernemer en roubeklaer nie.

“Sy voortdurende beloftes en sterk uitsprake tydens begrafnisdienste oor misdaadvoorkoming is leeg,” het adv. Lennit Max, Vryheidsfront Plus-raadslid, Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Max meen die onbevoegdheid van die ANC-regering en die polisie om hul mandaat om misdaad te bekamp na te kom, maak hulle medepligtig daaraan.

“Dit dien terselfdertyd as sterk motivering dat polisiëring gedesentraliseer moet word en aan metrorade oorgelaat moet word wat nader aan gemeenskappe is.”

Bring spesialiseenhede terug

Die DA en Action Society het voorts opnuut ʼn beroep op die afwenteling van die SAPD gedoen.

“Action Society glo dat die teenbende-eenheid teruggebring moet word, wat basies deur Cele ontbind is. Hoewel daar ’n toegewyde span in die provinsie is, is daar in talle gemeenskappe nie genoeg voete op die grond nie. Gevolglik moet mense steeds vir hul lewens vrees,” het Ian Cameron, woordvoerder vir Action Society, gesê.

Die burgerregtegroep versoek ook dat gespesialiseerde eenhede, onder meer moord- en roofeenhede, heringestel word om geweldsmisdaad doeltreffend te hanteer.

“Khayelitsha is nie die enigste gebied wat met vuurwapengeweld sukkel nie – gebiede soos Manenberg en Mitchells Plain het dieselfde probleem. Terwyl gemeenskappe smeek vir meer polisiëring in hul onderskeie woonbuurte, neem die aantal polisiebeamptes af.”

Maroela Media het vroeër berig daar is tans 804 polisiebeamptes minder as die getal in 2017. In Kaapstad‑Sentraal het ontplooiing van 525 tot 425 gedaal terwyl kontakmisdaad hier met 30,8% toegeneem het.

Kaylynn Palm, mediaskakelbeampte by Action Society, sê desentralisering van die polisie is uiters noodsaaklik om verantwoordbaarheid terug te bring en dienslewering te verbeter.

“Dit gaan nie oor politiek nie, maar die veiligheid van burgers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Paul ·

Hoe is dit die saps se skuld.. speurders ondersoek misdaad.. hoe sou hulle dit stop

marius ·

Waarom sal diegene wat die land in ghaos gedompel het toelaat dat daar stabiliteit in die WK is ? Hierdie afbreek is haarfyn beplan . Go dit maar .

Marius ·

Volgens die regering kan jy sommer enigiemand van die straat af vat en hom of haar ‘n soldaat, polisieman, verpleegster of ‘n bewaarder maak. En as ons kyk na die verskillende staatsinstellings kan die klaaglike en betreurenswaardige resultate duidelik bespeur word. viva anc !!! viva !!!!!!

Witbaard ·

Vroeer jare het die regering van die dag ook alle jong seuns van die straat afgehaal en van hulle uitstekende soldate en polisiebeamptes gemaak. Verskil is dat daar kundige mense was wat hulle opgelei het.

Delia ·

Destyds het mense nie daai professies beoefen net vir n salaris nie. Dit was vir die liefde van die saak en n roeping.

Di ·

BEGIN van BO tot onder en raak ontslae van al die korrupte, onbevoegde lede wat SELF kriminele rekords het. CELE moet EERSTE die trekpas kry!

Swerwer ·

Natuurlik het hul nie genoegsame opleiding ontvang nie. Geen ANC/EFF Kader het ordentlike opleiding vir die poste wat hul beklee nie. Die Kommunis kan mos nie bevoegde opgeleide persone in poste aanstel nie, dit is benede hul stand.

Delia ·

Hoekom die SAPD die skuld gee vir alles. Hulle vang moordenaars en die howe gee borgtog en dan verdwyn die kriminele in die massas of oor die grense en dan moet die polisie maar weer soek. Groot probleem lê by Justisie en die wette.
Kriminele weet hulle kom niks oor. As ek n SAPD lid is sal ek dalk ook moeg word en moed opgee.
Daardie moordenaars in Kayalitsha is nie eerste oortreders, heel waarskynlik uit op borgtog of belaglike vonnisse vir hulle oortredings.

En hoekom die Wes Kaap uitsonder. Dit gaan so in die hele land.

Jacobus ·

Die SAPD het die wetsgehoorsame publiek se ingehandigde vuurwapens in die Weskaap aan ganngsters uitgedeel ( GOOGLE KOL PRINSLOO). Die ANC is mos in beheer van JUSTISIE EN MAAK DIE WETTE DAAR IS MOS MINISTERS VIR DAAI DEPARTEMENTE. DIE ANC HET MOS AL IN DIE OPENBAAR GEDREIG DAT HULLE DIE WESKAAP ONREGEER GAAN MAAK. Wel ek het nuus vir hierdie terroriste dit gaan nie so maklik wees nie!

Janc ·

Ek onthou baie goed toe ons ‘n paar jaar terug vakansie gaan hou het in die Kaap, was aan ons genoem dat sou jy deur Khayelitsha ry en jy kry ‘n pap wiel, hou aan ry. Want as jy gaan stilstaan gaan jy of geroof of gemoor word. Dis scary. Lyk my almal is bewus van hierdie misdaad buiten die Polisie. Stel mense aan wat daar kan patroleer, sekuriteits maatskappye wat gewapen is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.